Ek het vandag weer vir julle ‘n stukkie wat gebaseer is wat iemand vir my gestuur het. Ek moes dit net met julle deel, want dis een van daardie oog oopmaak stories wat jou skielik laat besef dat alles nie altyd is soos wat ons dink dit is nie!
Ons almal ken die verhaal van die Israeliete en die daaropvolgende trek deur die woestyn soos opgeteken in die boek van Eksodus. Vir 40 jaar het die volk van Israel deur die woestyn getrek. Ek weet dat baie van julle wonder watter woestyn dan so groot is dat dit hulle 40 jaar gevat het om daar deur te trek? Geen woestyn is so groot nie en die enigste verklaring is dat hulle al in die rondte moes getrek het en net nooit daaruit kon kom nie. Ek kan julle verseker dat hulle baie gekla en gemurmureer het hieroor by God. Ek kan dit al hoor: “Alweer dieselfde plek? Net sand, sand en nogmaals sand. Gaan dit nooit end kry?“
Klink hierdie bekend vir julle? Ons doen presies dieselfde as dinge nie vir ons wil uitwerk nie. Ons trek ons hele lewens lank om dieselfde berg en ons sukkel ons hele lewens om met dieselfde probleme, maar ons kom dit nie agter nie! Ons bid dat die aarde bewe en ons smeek dat die trane loop by God: “Vat tog asseblief hierdie berg waarom ons trek weg!” Maar niks gebeur nie!
Dan bid ons nog harder en smeek nog meer, maar nog steeds gebeur niks! Ons word moedeloos, ons raak kwaad vir God, ons rebelleer teen God, want vanuit ons oogpunt lyk dit of ons gebede nie werk nie, maar ons sien nie die groter prentjie nie.
Dis nie die berg wat moet verander nie, maar ons! God gebruik die berg om jou op jou knieë te hou sodat jy deur jou omstandighede verander kan word.
Kom ek vra julle iets: hoeveel van julle het al gebid oor julle omstandighede? Ek steek saam met julle my hand op, want ek het ook al op verskeie kere dit gedoen! Het die omstandighede waaroor jy gebid het verander of is dit jy wat verander het toe jy die dag vrede gemaak het daarmee?
Iemand het eenslag gesê: Here, gee my die kalmte om die sake waaraan ek niks kan verander nie te aanvaar, moed om die sake te verander wat ek kan, en die wysheid om die verskil te ken. Hierdie is sekerlik die wysste woorde ooit, want dis ons wat moet verander, liewe lesers, nie die berg nie.
Verstaan julle nou waarom die HERE vir Paulus gesê het: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” (2 Korintiërs 12:9)
Kom ons bid: HERE, Koning… Ons is so klein. Selde sien ons die groter prentjie. Help ons, liewe Vader, om te kan verander wat ons kan, te aanvaar wat ons nie kan nie en gee ons die wysheid om die verskil te ken. In U Naam vra ons dit. AMEN!