Hierdie boodskap is eintlik vir iemand wat naby aan my is, maar ek pos dit vir almal om te lees omdat ek weet dat julle almal daaruit sal kan leer.
Ons het gesels toe die gesprek uitloop oor hoe alles in ons land uitmekaar uitval… Kyk, tensy jy onder ‘n klip die afgelope twintig jaar gebly het, sal elkeen wat hierdie lees weet waarvan ek praat! Dienslewering het net ‘n woord geword. Reg en geregtigheid bestaan nie meer nie. Al wat oor is, is die materiële sy van die lewe waar mense net bymekaar maak dit wat hulle voel hulle toekom en dit nie saak maak wie daaronder lei nie.
Ek weet dat julle wonder wat die HERE se doel hier mee is en waarom hierdie dinge toegelaat word. Die antwoord is dat die HERE hierdie goed toelaat sodat ons as mens moet leer hoe nutteloos ‘n lewe is sonder God is; dat daar net een ware pad na geluk is en dit is deur Jesus Chritus! Amen!
Julle moet ook verstaan dat die HERE die wat Hy lief het toets. Hy laat toe dat satan ons in die modder rol; nie om van ons slegter mense te maak nie, want slegte tye maak nie slegte mense nie, dit maak taai mense wat leer om opgewasse te wees teen die storm. Ek weet dis pynlik en die HERE weet dit ook! Om te sien hoe alles wat jy so hard voor gewerk het afgebreek word is nooit lekker nie. Maar weet dat die HERE besig is om jou gereed te kry vir baie groter dinge as dit wat jy tot nou toe gedoen het!
Ek het in ‘n vorige boodskap vir julle gewys dat rofweg 90% van alle Christene geen idee het wat in die Woord van die HERE staan nie! Hulle hoor ‘n storie; dit klink reg en dan hardloop hulle daarmee asof dit die waarheid is! Die probleem is nou; hoe skei jy die bokke van die skape? Deur hulle met vuur te toets!
Jesus sê in Mattheus 22:14 “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Hoe baie is daar wat dink dat omdat hulle gered is, hulle outomaties in die wegraping geneem gaan word? Rofweg 90% van alle Christene dink so! Onthou julle wat ek met julle gedeel het oor die eerste drie oeste van die nuwe jaar in Jerusalem; die garsoes, die graanoes en die druiwe oes? Die mense van die garsoes voorstel is gereed, want hulle plaas God eerste in hulle lewens. Hulle ken die donkerheid van hulle eie harte en daarom bid hulle gereeld vir vergifnis van hulle sondes. Hulle is geestelik volwasse, maar hulle is in die minderheid. Die oorgrote groep gereddes, is mense van die koringoes. Hulle is die wat Jesus ken, maar hulle stel nie God eerste in hulle lewens nie. Hulle hou van die wêreld en sy genot en daarom is hulle nie heeltemal gereed nie. Verstaan julle nou Jesus se woorde in Mattheus 22:14? Min gaan uitverkies word! Min gaan gereed wees om te gaan! Dink jy dat jy gereed is?
Moet jou nie bekommer oor dit wat jy nie kan verander nie. Daar is ‘n spreekwoord wat iemand eenslag gebruik het en dit lei so: Mag die HERE my die krag gee om te kan verander wat ek kan, te los wat ek nie kan nie en die wysheid om die verskil te ken! Ek kan nie vir julle sê hoe waar hierdie woorde is nie! Elke dag bekommer ons ons verskriklik oor dit wat ons nie kan verander nie! Jesus sê in Mattheus 6:27 “Wie tog onder julle kan, deur hom te kwel, een el by sy lengte voeg?” Kan jy, liewe leser? Waarom bekommer jy jou dan oor dit wat jy nie kan verander nie? Los jou bekommernisse in die hande van die HERE sodat Hy daarmee kan werk op Sy tyd; nie op jou tyd nie!
Konsentreer eerder op jou heiligmaking, want dis iets wat jy kan verander! Spandeer jou tyd om die HERE te leer ken as om jou te bekommer oor dinge wat jy nie kan verander nie. Soek die koningryk van die Hemele sodat meer vir jou bygevoeg kan word in terme van seëninge.
Ek weet dat hierdie dinge vir sommige van julle moeilik gaan wees om te doen. Dit was vir my ook in die begin. Maar weet dit dat niks sal gebeur sonder die HERE se uitdruklike toestemming nie. Onthou, jy is baie meer werd as baie mossies! Nie ‘n haar sal van jou kop af val sonder die wil van die HERE nie. Glo en vertrou jy net op die HERE!
Jesus sê in Lukas 12:32 “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.”
Moet dus nie links of regs kyk nie. Hou jy net jou oë op Jesus!
Prys die Naam van Jesus!