Hou vas wat jy het

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Een van die interessante dinge om ‘n Christen te wees is, is om te sien  hoe die Gees van die Here beweeg.

Ek let op na die Christen boodskappe wat mense op sosiale media pos. Hierdie is mense ken mekaar glad nie en het geen idee wat die ander een gaan pos nie, maar jy kan die leiding van die Gees in elke boodskap sien as jy die boodskappe volg! As dit swaar gaan, word daar boodskappe gepos om moed te hou; verligting kom! Waarskuwings word ook gepos: pasop vir dit of pasop vir daardie. Ek is seker daar is van julle wat dit agtergekom het!

Self het ek al baie krag vir baie situasies wat vir my onmoontlik gelyk het om te oorkom uit boodskappe gekry wat so deur ander aangestuur word. Dit wys net dat die klein bietjie wat jy doen, baie keer ‘n enorme groot invloed het waarvan jy salig onbewus is!

Baie van julle sit met skatkamers vol goud en allerhande edelgesteentes wat julle nie van bewus is nie! Begin julle nou verstaan wat Jesus bedoel het met sy woorde “oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel”? (Mattheus 25:21)

Ek gaan nou aansluit by een van my vorige boodskappe oor Vingerhoede, Koppies en Balies. Ons almal is gemaak om ‘n kapasiteit te kan hou vir die HERE. Die balie kan baie hou en ons almal wens ons kan ‘n balie vir die HERE wees! Maar die balie staan buite die huis en dit kan enorm baie water hou, maar die balie word nooit in die huis ingebring nie. Daarvoor word die emmer gebruik word. Water word in die emmer getap en dan in die huis ingebring, maar ons drink nie tee uit die emmer uit nie! Dis waarvoor die koppie daar is! Begin julle verstaan dat elke item sy eie doel het en dat jy, ongeag van jou grote in die HERE ook ‘n doel het?

Die HERE het elkeen van ons gemaak vir ‘n doel. Moet dus nooit dink dat die klein bietjie wat jy doen nutteloos is nie! Daardie boodskappie wat jy op sosiale media aanstuur, dra krag wat jy niks van bewus is nie. Jy verander die rigting van mense se lewens met dit wat pos sonder dat jy dit weet! Prys die Naam van die HERE!

Kyk wat sê die HERE vir jou in Openbaring 2:25-26 [25] Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. [26] En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee”.

Onthou dat die HERE kyk nie na die kleinheid van die hart of die kleinheid van die bediening nie, maar na die gesindheid waarmee daar gedoen word. In baie gevalle gee julle wat net die klein bietjie doen, meer as die wat balies vir die HERE is! Die balie gee uit oorvloed omdat dit baie hou, maar die wat koppies en vingerhoede is vir die HERE gee alles omdat julle so min hou! Daar is letterlik niks om te hou vir later nie!

Hou dus aan om te doen wat jy doen en hou vas wat jy het! Jy doen baie meer vir die HERE as wat jy dink! Laat die mense maar neerkyk op jou. Jy is letterlik die as van die wiel. Die speke mag die gewig van die wa dra en die loopvlak al die harde werk, maar sonder die as kan die hele wiel nie werk nie! Jy en dit wat jy vir die HERE doen is kosbaar soos goud in die oë van die HERE!

Prys Sy Wonderlike Naam!

(Visited 140 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .