Ambassadeurs vir Jesus

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus sê dat ons is die lig van die wêreld; die sout van die aarde, maar hoe kan ons die lig of die sout wees as die lig dof is en die sout laf is? (Mattheus 5:13)

Moenie oordeel nie, want die oordeel waarmee jy oordeel, sal jy mee geoordeel word. Hierdie is so baie van ons se grootste probleem, want ons is lief om die dinge wat ons nie verstaan nie te oordeel. Wat ons nie weet nie, is dat solank ons nederig bly, sal die HERE ons beskerm, maar as jy opstaan om te oordeel; dan verloor ons God se beskerming.

Ons almal maak foute. Moenie te hard op jou wees as jy ‘n fout maak nie, want dit is hoogmoed! Iemand wat hoogmoedig is, dink dat hy nooit ‘n fout sal maak nie en as hy ‘n fout maak, dan verwyt hy homself eindeloos. Moet dit nie doen nie, maar vra eerder vir die Here onverskoning vir die foute wat jy maak en vra eerder vergifnis vir jou oortredinge.

Wees lief vir jou naaste. Dis ‘n gebaar van liefde en vergifnis om iemand sy oortredinge teen jou te vergewe. Om jou naaste se foute nie toe te reken nie, is liefde, want liefde weet dat sy ook foute het wat deur ander nie toegereken word nie. Liefde simpatiseer, want sy weet dat haar omstandighede net so vinnig kan verander. Om iemand te korrigeer as dit nie nodig is nie, is nie liefde nie. Om iemand af te kraak of sleg te maak is ook nie liefde nie. Moet jouself nie verlekker in ander se ongeluk nie, selfs al is dit iemand wat volgens jou dit verdien of iemand wat jou in die verlede te na gekom het.

Moenie suinig wees nie. Gee aan die wat in die nood verkeer. Ek het op geleentheid die getuienis van twee ou mense gehoor wat elk al oor die sewentig jaar oud was en langs die pad geloop het toe ‘n sekere man langs hulle met sy motor stop en vra waarheen hulle gaan. Hy het hulle dopgehou en gesien hulle loop lank en ver. Hulle is op pad huis toe het hulle geantwoord. Die man vra toe of hy hulle kan vat met sy motor. Hulle antwoord dat dit nie nodig is nie, want dis nie meer ver nie. Boonop, hulle bly buite die dorp en die pad is sleg. Hulle wil nie hê hy moet sy motor vir hulle beskadig nie. Hy vra toe of hulle al iets gehad het om te eet? Hulle antwoord toe nee. Hy gee toe vir hulle ‘n twee liter Coke wat hy by hom gehad het, as ook al die geld wat hy by hom gehad het. Die ou man sê toe aan sy vrou: “Sien, die Here het ons alweer nie vergeet nie!”

Onthou; die Here is nie dom, doof of blind nie en Hy sien wat binne in ons harte aangaan, selfs al steek ons dit so goed weg vir ander. Om ‘n geskikte bruid vir die Here te wees, moet ons aanpasbaar met Hom wees. Ons moet liefhê wanneer Hy liefhet en ons moet treur wanneer Hy treur. Daar is geen groter bewys van liefde vir Jesus as die manier wat ons teenoor ander optree wanneer hulle in die moeilikheid is nie.

Hoe kan ons verbeter? Deur ons in die skoene van ander te sien. Kyk na die goeie in ander en dan na die tekortkoming in jouself. Wanneer jy jouself kondisioneer om hierdie benadering te volg, sal jy nader aan die Koningryk van die Hemele beweeg. As ons dit nie doen, nie, dan nooi ons die koningryk van die duisternis nader, want dit is hoe satan (die verleier) is. Hy is hoogmoedig, jaloers, suinig, kraak ander af en verlekker hom in ander se ongeluk. As jy hierdie dinge doen, selfs al voer jy ‘n heilige bestaan, dan forseer jy die Here om jou op ‘n afstand te hou, ongeag hoe hard jy bid of die Here prys. Die Here is die lig en die lig het geen gemeenskap met die duisternis nie.

Gehoorsaamheid is ons geskenk van liefde aan Jesus. Ons is ambassadeurs vir Jesus op aarde en ons moet optree soos ambassadeurs doen. ‘n Ambassadeur let op wat hy sê en doen, want dit wat hy sê of doen kan tot groot verleentheid lei nie net vir hom nie, maar ook vir die land wat hy verteenwoordig. Op soortgelyke wyse kan ons vir Jesus ‘n groot verleentheid wees oor die dinge wat ons hier op aarde sê en doen. Pas dus op!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 236 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .