Daar is baie van julle wat bekommerd is dat julle nie in tale kan praat nie, maar vandag wil Jesus vir jou sê dat jy nie hoef te wees nie!
Die praat in tale is een van die nege Gawes van die Gees soos dit in 1 Korintiërs 12:8-10 opgeteken is. Hierdie Gawes is Wysheid, Kennis, Geloof, Gesondmaking, Werking van Kragte, Profesie, Onderskeiding van Geeste, Praat in Tale en Uitleg van Tale. Let op dat die praat in Tale in twee gedeel is en afsonderlik getel moet word as gawes op hulle eie. Dis omdat sommige mense kan praat in tale, maar dit nie kan uitlê nie en dan is daar wee diegene wat Tale kan uitlê, maar dit self nie praat nie.
Die doel van hierdie boodskap is nie om in diepte in hierdie Gawes van die Gees te delwe nie, want dis ‘n boodskap op sy eie, maar wat wel belangrik is, is om te weet dat al hierdie gawes saamwerk as ‘n eenheid. Let op wat Paulus in 1 Korintiërs 12:11 sê “Maar al hierdie dinge werk een en dieselfde Gees wat aan elkeen afsonderlik uitdeel soos Hy wil.” Dit beteken dat nie een van hierdie gawes meer belangriker is as die ander nie, maar die Gees deel uit soos Hy wil.
As jy dus die Gawe van Geloof het, maar jy kan nie mense gesond maak nie, dan is jy nie minder werd as iemand wat dit kan doen nie. Dieselfde as jy nie in ‘n taal kan praat nie of dit kan uitlê nie. Dit beteken nie dat jy nie die Heilige Gees in jou het nie! Ja, daar is diegene wat leer dat as jy nie in tale kan praat nie; jy nie die Heilige Gees in jou nie en hier ek praat van persoonlike ondervinding!
Die gemeente in Korinte het ook so gedink en Paulus het verskeie briewe aan hulle gestuur om die werking van die Heilige Gees aan hulle te verduidelik net soos ek ook nou doen.
Paulus het op geleentheid geskryf dat die Praat in Tale die geringste van die Gawes is omdat iemand wat in Tale praat, direk tot God praat en nie die mense nie, want niemand verstaan dit nie. (1 Korintiërs 14:2) Al die ander Gawes stig die gemeente met woorde van troos en bemoediging, behalwe die Praat in Tale.
Paulus het ook geskryf dat as hy net in Tale gepraat het, van watter nut sal hy dan vir die gemeente gewees het, want niemand sou hom kon verstaan nie! Hy sal soos ‘n musiek instrument wees wat ‘n klank maak, maar sonder die onderskeid in toon en daarom sal niemand weet wat op die musiek instrument gespeel word nie! Dis waarom die persoon wat in Tale spreek moet bid dat hy dit kan uitlê of anders gaan dit wat hy spreek van geen nut vir die gemeente wees nie. Hy sal wees soos iemand wat in die wind praat, want so iemand bid in die Gees, maar sy verstand is onvrugbaar!
Wat is dan die oplossing? Om in die Gees en die Verstand te bid. Sing met die Gees psalms, maar ook met die verstand, want dis beter om vyf woorde met die verstand te praat as tien duisend woorde in ‘n taal wat niemand verstaan nie.
Ek sê nie hiermee dat die Praat in Tale nie belangrik is nie. Dit is, want anders sou dit nie in die Woord van God opgeneem was nie. Wat belangrik is om te weet dat as jy nie in Tale kan praat nie, dit nie beteken dat jy nie die Heilige Gees in jou lewe het nie. Moenie dat enige iemand vir jou anders probeer oortuig nie! En moet ook nie dat iemand vir jou oortuig dat daar fout met jou is nie, want daar is nie! Ek het vir jare gedink dat daar fout met my was omdat ek nie in tale kan praat nie en dat Jesus my nie so lief het soos ander omdat Hy my daardie gawe nie wik gee nie… Alles loutere snert en leuens van satan! Vandag weet ek beter! Prys die Naam van die HERE!
Die feit dat jy nie in Tale kan Praat nie, beteken maar net dat die Gees ander planne met jou het. Onthou; die ander Gawes stig die gemeente, maar nie die Praat in Tale nie. As jy nie in Tale kan praat nie beteken dit tien teen een dat jou doel is om die Gemeente te stig, te bemoedig en moed in te praat! Dis wat ek doen, want ek kan nie in Tale praat nie. Ek het ook nie al die Gawes nie, maar die Gees het my toegerus met wat en nodig het om hierdie boodskappe aan julle te bring en dis vir my meer as net goed genoeg! Prys die Naam van die HERE daarvoor! Dis waarna julle ook moet streef; myns insiens.
Onthou, dat as Jesus wil hê dat jy vir Hom ‘n spyker êrens moet gaan inslaan, dan gaan Hy nie vir jou ‘n tang gee om dit mee te doen nie! Hy gaan ook nie vir jou ‘n glas gee om water mee te gaan skep nie; Hy gaan vir jou ‘n emmer gee!
Om af te sluit, liewe leser; daar is nie fout met jou nie. Hou op om jouself so te skop omdat jy nie in Tale kan praat nie. Wees dankbaar vir die Gawes wat jy het. Vertroetel en verkoester hulle, want hulle is kosbare geskenke van die HERE af!
Mag die HERE hierdie boodskap aan almal wat dit lees se harte seën!
