As Jesus gepraat het

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek gaan vandag ‘n storie met julle deel wat iemand vir my gestuur het. Ek weet dat baie van julle gaan dink dat dit snaaks is en dit is, maar die boodskap is nie.

Daar was ‘n bekende ateïs wat een oggend na sy motor se radio geluister het op pad na die werk. Dit was ‘n gesels radio kanaal en die omroeper het ‘n telefoon gesprek gehad met ‘n ou dame. Die gesprek het gegaan oor die gelukkige vol lewe wat sy tot dusver gehad het en sy het Jesus al die eer daarvoor gegee. Sy het bygevoeg dat sy nie altyd elke maand genoeg het om te eet nie en dat geld maar skraps is, maar dat sy nog nooit te min gehad het nie. Sy het weereens vir Jesus geprys daarvoor!

Die ateïs het by sy werk aangekom en dadelik met sy sekretaresse gaan praat. Hy het vir haar gesê dat sy die radio stasie moes bel en uitvind wie die ou dame was, want hy wil vir haar kruideniersware koop en stuur. Sy het dit gedoen en baie gou het sy die dame se besonderhede gehad in dieselfde stad waar hulle gewerk het. Die ateïs het gesê dat sy R5,000 se kruideniersware moet gaan koop en dan vir die dame moet gaan aflewer met ‘n boodskap.

Sy het dit gedoen en toe sy by die huis van die ou dame stop, kon sy sien dat dit aan iemand behoort wat nie geld het nie. Die ou dame was in ekstase oor die kruideniersware en sy het oor en oor vir Jesus geprys daarvoor. Die sekretaresse het gesê dat dit van haar baas af kom, maar dat sy ook ‘n boodskap het wat sy vir die ou dame moes gee. Die boodskap was dat die kruideniersware met komplimente van satan af kom.

Die ou dame het gaan staan, die jong sekretaresse in die oë gekyk en gesê: “Sien jy meisie; as Jesus praat, dan luister tot satan!”

Hierdie antwoord is snaaks, maar dis ook so waar! Satan het gedink dat hy ‘n kind van God gaan kan betower met sy rykdom, maar hierdie ou dame het regdeur satan se plan gesien! As Kind van God het ons nie goed nodig nie, want niks wat ons op aarde besit sal ons ooit saam met ons kan vat die ewigheid in nie. Jesus gee vir ons wat ons nodig het. Alles wat ek persoonlik besit kom van Jesus af en Hy het gesorg dat ek dit kan bekostig sodat ek Sy werk op aarde kan doen. Dis die enigste rede waarom ek het wat ek het en ek prys Jesus daarvoor!

Ons is Kinders van Jesus, maar dit beteken nie dat ons perfek is nie. Ons bekommer ons oor goed en ons sê partykeer goed wat ons nie moet nie. Dit beteken nie dat jy ‘n slegte Christen is nie, dit beteken maar net dat jy menslik is en menslike swakheid is deel van ons en totdat Jesus kom, gaan dit deel van ons bly. Ons gaan moet leer om saam met ons swakhede te werk om so sterker anderkant uit te kom.

Satan gaan sy bes probeer om jou onder te kry en vir jou te probeer oortuig hoe teleurgesteld Jesus in jou is, maar onthou dat dit ‘n leuen is! Jesus is nie teleurgesteld in jou nie. Om die waarheid te sê, Hy is meer lief vir jou as teleurgesteld! As satan nou weer met daardie nonsens na jou toe kom, sê vir hom dat hy moet gaan speel op die N1!

Satan gaan altyd probeer  om jou af te breek en onder te kry, maar dit gaan van elkeen van ons afhang of ons gaan luister of nie. Om vir Jesus te prys vir wat jy het en ook dit wat jy weet jy nog gaan kry, werk altyd. Satan kan dit nie hanteer as jy aanhou om dit te doen nie en hy sal van jou wegvlug!

Mag Jesus hierdie boodskap aan elkeen se harte seën sodat julle iets het om aan vas te hou in die komende week.

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 115 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .