As jy maar net kon sien wat Ek sien

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek wil vandag bid en vra vir wysheid, liewe HEER. Ek wil vra dat U ons die krag sal gee om aan U hand vas te hou, ongeag wat gebeur en dat ons net op U sal vertrou. Amen!

Iemand het die week vir my die volgende rema boodskap gestuur: “Hou vas, Ek is by jou, spreek die HERE! As jy maar net kon sien wat Ek sien, sou jy My eerder vertrou en met die een hand vashou!”

Julle weet, om die stem van die HERE op so ‘n manier te hoor roer iets binne in jou, want baie mense dink dat as jy die Woord van die HERE bedien, dan is jy volmaak, maar dis glad nie so nie. Ek is maar net ‘n gewone mens wat genade by die HERE ontvang het net soos julle. Ek struikel en val oor dieselfde dinge as julle. Baie keer is die boodskappe wat ek bring meer op my van toepassing as vir julle, maar ek bring dit nogtans vir julle, want so kan ek ander ook help.

Ek werk vir myself. In Maart en April het ek die beste twee maande ooit in my besigheid gehad, maar sedert Mei maand is dit asof iemand ‘n kraan toegedraai het. Die geld het al hoe skaarser geword tot waar ek nou is en net genoeg het om my oor die drumpel te vat. Nog erger het my kar die gees gegee en moes ek hoed in die hand by die bank gaan staan om ‘n ander een te koop. Die herstel werk sou my net te veel uitgewerk het om die ou motor te laat herstel.

Gewoonlik as dinge so erg gaan dan kan jy verseker wees jy word getoets. In die leerskool van die HERE leer ons elke dag lesse om ons gereed te maak vir die Hemel, maar hierdie lesse gaan geen doel dien as daar nie ‘n eksamen op volg nie. Ons moet tog immers kan wys dat ons die lesse geleer het en dat ons die werk verstaan. Die HERE kan jou nie bevorder in Sy koningryk as jy die lesse nie verstaan of die eksamen nie slaag nie. Slaag jy, dan beweeg jy aan en kry jy moeiliker lesse om te leer, maar eers moet jy kan wys dat jy die makliker werk verstaan.

Dan kom satan en fluister leuens in my oor en dan bekommer ek my oor my finansies! Op verskeie geleenthede as ek my Bybel oopslaan, dan slaan dit oop by daardie gedeelte oor bekommernisse. (Mattheus 6:25-34) Dan gaan dit vir ‘n rukkie beter, maar ook net ‘n rukkie.

Eendag toe satan weer kom met sy leuens, toe gaan staan ek stil en sê: “Die HERE het my hier in gekry en Hy kan my weer hier uit ook kry!” Ek kan julle een ding sê; sekelstert het niks hiervan gehou nie! Toe probeer hy sy geluk op ‘n ander manier en dit is om die verhouding tussen my en my familie te versuur. Aanvanklik het dit gelyk of hy sou wen, maar dit het net so gelyk, want die ons verhouding is nou sterker as ooit!

So word jy getoets, liewe leser, en die HERE laat dit toe! Dis die enigste manier om uit te vind of jy waardig is vir dit wat die HERE vir jou wil gee. Maklik is hierdie toetse nie, maar agterna wys die HERE jou waarom daardie toetse nodig was. Julle moet weet dat die HERE jou nie met ‘n miljoen rand kan vertrou as jy nie eers met ‘n duisend rand kan werk nie. Dis waarom die toetse daar is: om te kyk of jy gereed is vir meer!

Daarom liewe leser, as jy vind dat dinge vir jou te veel raak, ondersoek die moontlikheid of jy nie dalk getoets word nie. Hierdie toetse kan lank of kort wees. As jy jonk in die geloof is, dan is die toetse maklik, maar hoe verder jy vorder hoe moeiliker en langer word die toetse. Een ding moet julle weet; jy sal NOOIT bokant jou kragte getoets word nie!

As jy vaal, moet jouself dan nie skop nie. Leer uit jou foute, bely hulle voor die HERE en probeer dan weer.

In alles is dit uiters belangrik om te onthou dat die HERE verder in die pad af kan sien as ons. Hy laat toe dat satan ons versoek, maar met ‘n goeie rede. Solank jy aan die Vader se hand vashou sal jy getoets word, maar dan sal dit makliker gaan as wat jy hierdie toetse op hulle eie probeer deurstaan. Onthou, die HERE sien groot dinge in ons toekoms vir ons, maar dan moet jy eers bewys dat jy die klein goedjies kan baasraak.

Bid vir wysheid, liewe leser, en as jy getoets word, ag dit loutere vreugde! Prys die HERE!

(Visited 110 times, 1 visits today)