Die keuse om Jesus te dien is ‘n keuse wat aan almal van ons gegee word om te maak.
In Openbaring 3:20 lees ons hierdie bekende vers: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
Ek het hierdie vers seker al ‘n hele paar keer in my lewe gelees. So ‘n paar dae gelede wys die Gees my een enkele woord in hierdie vers en dit is die woordjie “as”; “As iemand my stem hoor en die deur oopmaak”. Daardie woord “as” wys op ‘n keuse wat gemaak moet word, maar dit wys ook op baie meer as dit. Dit wys daarop dat die keuse net gemaak kan word deur die persoon wat hierdie woorde hoor.
Jesus staan by die deur van elkeen van ons se harte en Hy klop. Sommige gaan vir Hom oopmaak, maar nie almal nie. Die keuse is egter joune en net joune om te maak. Niemand kan egter daardie keuse vir jou maak of jou dwing om daardie keuse te maak nie. Dis iets wat net jy alleen kan doen en jy kan op geen manier daarin geforseer word nie.
Vir ons wat klaar gekies het is dit natuurlik die moeilikste ding om te verwerk as iemand wat ons ken Jesus verwerp. Ek kan persoonlik daarvan getuig, want ek het familie wat Jesus verwerp het. Sommige van julle het kinders wat dieselfde gedoen het. Om so ‘n las te dra is geen maklike taak nie, maar die keuse bly egter daardie persoon s’n om te maak. Net hy of sy kan daardie besluit maak en daar is niks wat ons daaraan kan doen behalwe om daardie persoon op te dra in gebed nie.
Satan hou iemand soos dit doelbewus blind sodat hy of sy nie die waarheid kan sien nie en ons sien dit nou meer as ooit soos die tyd besig is om uit te loop. Moenie vir hulle kwaad word nie. Word eerder kwaad vir satan, want hy is die een wat hulle verlei. Hulle is vas oortuig daarvan dat hulle reg is, maar dis omdat hulle die waarheid nie kan sien nie.
Moenie in ‘n argument met so iemand betrokke raak ten sy jy baie sterk in die Gees is en by magte is om dit te kan weerlê nie. Stilbly is baie keer ‘n beter antwoord. Laat die persoon maar dink jy is swak. Onthou Jesus se woorde dat Sy krag deur swakheid volbring word! (2 Korintiërs 12:9)
Ons is getuies van Jesus Christus. Ons getuienis is waar, want ons getuig van wat ons weet. Die wat ons getuienis aanvaar sal gespaar word van die uur van beproewing wat binnekort oor hierdie wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (Openbaring 3:11)
Soos ek in die begin gesê het: die keuse is ons elkeen s’n om te maak. Niemand kan daardie keuse van jou wegneem of selfs die keuse vir jou maak nie. Dis joune en net joune om te maak. Kies dus, maar kies met wysheid.
Mag Jesus jou met wysheid seën!