Lig van die wêreld

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die dag toe ons tot bekering gekom het, het Jesus die Lig van die Heilige Gees binne in ons aangesteek.

Daardie lig brand nog steeds helder binne in ons en dit trek nog steeds mense wat in die donker is aan na Jesus toe aan! Prys Sy Naam!

Jy gaan maar sukkel om daardie lig gedoof te kry of selfs weggesteek te kry, want soos Jesus gesê het, ‘n stad wat op ‘n berg gebou is, kan nie weggesteek word nie! (Mattheus 5:14) Waarom wil jy dan daardie lig wegsteek?

‘n Mens sit tog ‘n lig op ‘n staander of jy hang dit iewers hoog op sodat dit die hele omgewing verlig, dan nie? Net so het jy ‘n effek op die mense om jou. Hulle word aangetrek na die lig toe en hulle voel gemaklik in die lig. Hulle weet nie waarom nie, maar hulle weet dat hulle op een of ander manier veilig is in die lig.

Moet daarom nie jou lig wegsteek nie, liewe leser, maar laat jou lig skyn sodat almal kan sien dat jy aan Jesus behoort. Ek sê nie dat jy skielik vir die om jou uit die Bybel uit moet begin preek nie, maar ek sê wel dat jy jou lig moet laat skyn deur jou goeie werke. Mense gaan dit sien en so gaan God die Vader wat in die Hemel is verheerlik word deur jou goeie werke. Prys die Naam van Jesus!

Moenie dat jou lig besoedel word met wêreldse bekommernisse nie, want dan gaan jou lig baie gou gedoof word en gaan jy wees soos sout wat laf geword het. Daar is net een ding wat jy met lawe sout kan maak en dis om dit buite in die straat te gooi sodat dit deur die mense vertrap kan word. Los daarom die bekommernisse vir Jesus. Hy sal met elkeen van hulle werk op Sy tyd en hulle oplos ook, sonder dat jy enige iets hoef te doen!

Onthou, dat hoe helderder die lig in jou brand, hoe meer sal satan jou uitlos, want hy hou nie van die lig nie omdat die lig sy duistere werke openbaar.

Dis soos daardie gelykenis van die kampvuur in die bosveld. Hoe meer die vuur gestook word en hoe hoër die vuur brand, hoe verder bly die wilde diere van die kamp af omdat hulle bang is vir die vuur. Maar as daardie vuur nie gestook word nie en al hoe kleiner begin brand, dan kom die wilde diere al hoe nader omdat hulle die vuur nie meer vrees nie.

Bid en lees jou Bybel, want dis hoe jy die vuur van die Heilige Gees in jou stook en dit sommer baie helder laat brand! Satan is versigtig vir iemand wat se vuur so hoog en so helder brand en hy sal nie sommer met jou kom moeilikheid soek nie. Hy sal eerder gaan soek na ‘n makliker teiken wie se vuur nie so hoog brand nie, want so iemand is makliker om te versoek.

Hou daarom op om jou lig te probeer wegsteek. Die tyd vir lig wegsteek is verby. Hierdie wêreld is besig om te vergaan en die mense soek na iets om aan vas te gryp. Ons is daardie ankertoue vir Jesus, maar mense gaan net weet van jou as jy jou lig gaan laat skyn.

Nou weet julle wat hierdie lees wat om te doen. Gaan daarom heen en doen net so.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 333 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .