Die Bybel is vir ons gegee as ‘n handleiding om te gebruik ingeval ons nie meer weet nie. Baie mense lees mos nie meer die Bybel nie, want dis outyds! Die inligting is nie meer van toepassing op die “moderne” mens nie…
Ek en my vrou was in ‘n restaurant waar ons weereens gesien het hoe kinders handuit ruk omdat ouers die reëls verontagsaam. Miskien moet ek eerder sê dat God mos verkeerd is… Die sielkundiges weet mos baie beter!
Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons in Spreuke 13:24 “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” In Spreuke 22:15 sê Salomo: “As die sotheid vassit in die hart van die seun, die tugroede sal dit daaruit verwyder.” Die Bybel maan ons as te ware oor die belangrikheid van dissipline en die toepassing daarvan. Dit is iets wat ons almal (oud en jonk) nodig het om sodoende produktief te kan wees, maar dis makliker om hierdie lesse as kind te leer as ‘n volwassene.
Kinders wat sonder dissipline groot word rebelleer en het geen respek vir gesag nie; daarom sal hulle dit ook moeilik vind om gehoorsaam aan God te wees. God pas ook dissipline met ons toe wanneer Hy ons teregwys sodat ons die regte pad kan loop; ‘n pad in Sy wil. Hierdeur word ons tot berou gelei vir ons sondes. (Spreuke 1:7 “Die vrees van die HERE is die beginsel van die kennis; sotte verag wysheid en tug.”; Spreuke 6:23 “Want die gebod is ’n lamp en die onderwysing ’n lig en die teregwysinge van die tug ’n weg tot die lewe…”; Spreuke 12:1 “EEN wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.”; Hebreërs 12:9 “Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie?”).
Wat gebeur as hierdie dissipline nie toegepas word nie? In Spreuke 29: 15 lees ons die antwoord: “Die roede en die bestraffing gee wysheid; maar ’n seun wat aan homself oorgelaat word, steek sy moeder in die skande.” In hoe baie winkelsentrums, restaurante en ander openbare plekke gebeur dit nie? Die arme ouers staan daar met rooi gesigte terwyl hulle kind letterlik hand uit ruk!
Ek weet nou dat daar baie van julle is wat gaan sê dat dit maklik is om te praat. Dat die landswette mens verbied om lyfstraf toe te pas en ‘n hele rits ander verskonings! Dis alles korrek, want in Romeine 13:1-7 lees ons die volgende: “[1] LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel,[2] sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; en die wat dit weerstaan, sal hulle oordeel ontvang. [3] Want die owerhede is geen voorwerp van vrees by die goeie dade nie, maar by die slegte. Maar wil jy die mag nie vrees nie, doen wat goed is, en jy sal lof van hom ontvang; [4] want hy is ’n dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ’n dienaar van God, ’n wreker om die een wat kwaad doen, te straf. [5] Daarom is dit noodsaaklik om jou te onderwerp, nie alleen ter wille van die straf nie, maar ter wille van die gewete. [6] Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is dienaars van God wat juis hiermee voortdurend besig is. [7] Betaal dan aan almal wat aan hulle verskuldig is: belasting aan die wat belasting, tol aan die wat tol, vrees aan die wat vrees, eer aan die wat eer toekom.”
Hierdie gedeelte maak dit baie duidelik dat ons die regering wat God oor ons aangestel het gehoorsaam moet wees. God het regerings daargestel om orde te handhaaf, misdaad te straf, en geregtigheid te bevorder. Ons moet die regering in alles gehoorsaam wees—belastings betaal, reëls en wette gehoorsaam, en selfs respek betoon.
Nou waar los dit ons dan as Christene? Die Bybel leer ons dat ons die kinders moet dissiplineer, maar ook die landswette moet gehoorsaam? Wat as die twee bots? Na wie luister ons dan? In Handelinge 5:29 is die antwoord: “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Dus, as die landswette bots met God se wet, dan geniet God se wet voorkeur! Spaar die roede nie, liewe ouer en wees nie bevrees nie!
As ouers gaan ons moet besluit of ons ons kinders binne ‘n familieband gaan grootmaak deur die toepas van korrektiewe dissipline en of ons dit in die hande van die staat gaan oorlaat. As u wil verhoed dat dinge sodanig handuit ruk dat u seun of dogter dalk afstuur op ‘n kriminele rekord, dan is dit beter dat die tug binne die familieband toegepas word.
Ek gaan afsluit met ‘n vers uit Efesiërs 6:4 (1983 Vertaling) “En vaders, moenie julle kinders so behandel dat hulle opstandig word nie, maar maak hulle groot met tug en vermaning soos die Here dit wil.” Tug behoort met liefde en beheerstheid toegepas te word. Om tug in woede toe te pas is die grootste fout wat mens kan maak!
Mag die Here hierdie boodskap seën!