Jesus kom vir ‘n Gees Vervulde bruid

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Vandag se boodskap gaan ek vir julle bring volgens die gelykenis van die saaier. ‘n Saaier het gekom en die goeie saad van God se verlossingsplan in u lewe gesaai.

In party se lewens het die saad op die rotsagtige plekke geval. Hulle het tot bekering gekom, maar omdat daar geen ondersteunings basis was vir die jong christene nie het die saad ontkiem, maar dit het net so vinnig doodgegaan. In ander se lewens het die saad tussen die dorings geval. Weer het die boodskap ontkiem en gegroei, maar die bekommernisse en plesiere van die lewe het saam met die boodskap gegroei en die boodskap verstik. In die laaste groep se lewens het die saad in diep grond geval. Die boodskap het ontkiem, gegroei en vrug gedra: dertig, sestig en honderd fout.

U gaan nou sekerlik vra wat dit alles met u te doen het; so kom ek verduidelik. In watter grond het die boodskap van God se verlossings plan in u lewe geval? Is die boodskap dood, verstrengel of dra dit vrug? Die wegraping van God se kerk is baie, baie nader as wat baie mense besef. Hoe kan ons met sekerheid sê? Kyk maar wat besig is om in die wêreld te gebeur! Oral word daar van almal verwag om verdraagsaam met alles te wees, behalwe met God en Sy Gebooie! Teenoor God en Sy Gebooie vir ons lewe is daar geen verdraagsaamheid nie. Laasgenoemde word deur die mens uitmekaar getrek, oor geanaliseer en dan afgemaak as onverdraagsaamheid. Ten spyte van God se bevele, word daar van christene verwag om homoseksualiteit en lesbianisme te aanvaar as ‘n “alternatiewe leefstyl”! As ons as christene weier, dan word ons afgemaak as “arrogant” en “onverdraagsaam”!

Jesus gaan kom om ‘n Gees Vervulde Bruid wat vrug dra in Sy Woord. ‘n Bruid wat se lewe stewig geanker is in die wynstok wat Jesus is! Die saad wat in die rotsagtige plekke geval het en die wie verstrengel geraak het deur die bekommernisse en plesiere van die wêreld gaan agterbly! Onthou dat ons nie vriende met die Here en vriende met die wêreld kan wees nie. ‘n Keuse moet gemaak word!

Hoe kan ek seker wees dat ek Gees Vervuld is? Die antwoord is in Galasiërs 5:22 “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” Het u hierdie vrugte in u lewe? Dan is ek saam met u bly, want u is dan op die regte pad! Ons strewe moet wees om so veel as moontlik van hierdie vrugte in ons lewens te wys.

Onthou, om net gered te wees is nie meer goed genoeg nie! In Matteus 7:21 sê Jesus vir ons baie duidelik: ”Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” Wat is die wil van die Vader dan? Om God lief te hê met jou hele hart, hele liggaam en hele verstand. Tweedens om jou medemens net so lief te hê soos jouself. Derdens om die Woord van die Here uit te dra en die mense te leer om dit te onderhou.

Baie mense het ‘n probleem met bogenoemde stelling, omdat hulle dink dat hulle op ‘n straathoek moet gaan staan en vir die mense wat verbygaan preek. Nie waar nie. Ek het nog nooit op ‘n straat hoek gestaan en preek nie, maar ek gebruik die mag van internet om die boodskap van God se Verlossings Plan te verkondig. Ek weet glad nie hoeveel mense ek bereik nie, maar die Here het in ‘n droom vir my gesê dat ek nooit moet ophou met my werk nie, want ek bereik meer mense as wat ek ooit sal besef! Prys die HERE daarvoor!

Daar is so baie maniere waarop u die Woord van die Here kan uitdra dat ek nie eers alles kan onthou nie. U kan christelike boodskappe op Facebook pos of u eie opmaak en pos. U kan christelike boodskappe by die werk teen u kantoor se muur opsit. Hierdie is maar net twee voorbeelde, maar dit sal mense na die lig toe trek! As u dit doen sal u, u liefde vir Jesus bewys volgens Johannes 14:24 “Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie…” U sal God se Woorde bewaar en die olie in u lampie sal vermeerder! Die dag as die Bruidegom (Jesus) kom om Sy Bruid (ons) te haal, gaan u nie bekommerd hoef te wees dat u nie genoeg olie gaan hê nie! (Sien Mattheus 25:1-13 – Gelykenis van die tien maagde.)

Ek gaan afsluit met ‘n aantal Bybel Verse:

1 Johannes 2:18 “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” Jesus se koms is baie, baie naby, voor die deur. Wees gereed!

Romeine 8:5-8 [5] Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge. [6] Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede, [7] omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie. [8] En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;” Bedink u vleeslike dinge, liewe leser? Is u bekommerd oor hoeveel geld u maak? Is u bekommerd dat u huis of motor nie groot genoeg is nie of is u bekommerd dat u nie seksueel in u huwelik bevredig word nie? Alles wat ek hier genoem het is vleeslike dinge en dit behaag God nie!

Romeine 12:11-12 [11] wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here; [12] verbly julle in die hoop; wees geduldig in die verdrukking; volhard in die gebed.” Moenie ophou om die Woord van die Here te verkondig nie, wees bly maar ook geduldig met die wat u vervolg en die wêreld vir u moeilik maak, maar moet nooit ophou bid nie!

Romeine 12: 3 “Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.” Moenie eer soek vir uself nie. Soek eer vir God! Dis tog immers Sy tyd, Sy energie en Sy suurstof wat u gebruik om te kan doen wat u gedoen het!

Lukas 21:36 “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” Die tyd is nog nie verby nie, maar die nag kom vinnig aan en dan gaan niemand meer kan werk nie. Waak en bid sodat u gereed kan wees as die basuin blaas!

Openbaring 22:11 “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.” Die keuse is u s’n om te maak: God of die wêreld! Maak die regte keuse!

Mag die Here hierdie boodskap seën.

(Visited 260 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .