Ons bly in ‘n deurmekaar wêreld, maar soos julle weet was nog altyd ‘n deurmekaar plek sonder rigting of leiding.
Dit laat my so dink aan ‘n boot wat in ‘n storm vasgevang is. Die golwe slaan die boot links en regs sodat die mense in die boot heen en weer geslinger word. Mense raak bang, maar in die middel is die kaptein die van boot. Hy sê vir die mense dat hy geen beheer oor die golwe het nie, maar dat hy beheer oor die boot het en dis waarom hy hulle veilig daardeur gaan bring, want die boot kan hy beheer, maar nie die golwe nie! Dis presies soos hierdie wêreld is. Ons as Christene is die boot. Ons kan nie die wêreld beheer nie, maar ons kan die boot beheer! Ongelukkig spandeer hopeloos te veel christene hulle tyd om die wêreld te probeer verander!
Paulus sê vir Timoteus in 2 Timoteus 3:14 “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het.” Met ander woorde liewe leser, bly jy by wat geleer het omdat jy verseker weet waar dit vandaan kom! Beheer jy jou boot en moenie dat die wêreld jou anders probeer oortuig nie! Prys die HERE!
Ons hoop vir die toekoms vind ons in die gebed wat Paulus bid in Efesiërs 3:14-19 “[14] Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, [15] van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, [16] dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, [17] sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, [18] en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, [19] en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.”
Wanneer laas het u ‘n gebed soos dit gehoor? Of moet ek liewer sê; wanneer laas het u ‘n gebed soos dit gebid vir iemand anders? Ons hoor nie meer mense op hierdie manier bid nie. Ons hoor mense vir Tant Anna bid want haar voet is seer, maar ons hoor nie mense bid “Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus” nie. Wanneer laas het ons op ons knieë voor die HERE afgesak en intens vir iemand anders gebid sodat daardie persoon van binne af verander mag word om die HERE as sy Saligmaker te mag aanvaar?
Kon ons haal almal diep asem. Voel julle nou beter? Weet jy dat jy daardie diep asem teug kon vat net omdat die HERE jou dit toegelaat het? Kom ‘n slag oor jouself en vergeet van die eie ek. Die eie ek is nie belangrik nie! Self oorlewing en self beskerming is nie belangrik nie! Wat belangrik is, is om die God van Hemel en Aarde te eer vir die asem wat jy elke dag inasem en wat Hy jou toelaat om te doen uit liefde vir jou uit! Dis waarom Paulus op sy knieë gaan voor die HERE! Verstaan julle? Volgens die rykdom van God se Genade! Prys die HERE!
Ons het die vermoë om so baie te doen deur die rykdom van God se Genade, dis net nie snaaks nie! Daarom liewe Kind van God wil ek hê julle moet vandag vir my iets doen. Gaan uit in die wêreld en hou op om die wêreld te probeer verander. Jy gaan dit in elke geval nooit regkry nie. Wees jy anders as die wêreld en kyk hoe mense aangetrek gaan word na jou toe omdat jy anders is! Dis al wat jy gaan doen en dis maklik, is dit nie?
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
