Waarom is dit so maklik om die HERE te dien as alles in ons lewens reg loop, maar so moeilik as die toetse kom?
Kom ons gebruik vir Job as ‘n voorbeeld, want dis ‘n man wat alles in die lewe gehad het en ook alles verloor het, maar ten spyte daarvan het hy nooit opgehou om die HERE te prys nie. Sy vrou en sy vriende het hulle later van hom gedistansieer omdat hy so swaar gekry het… maar Job het nooit moed opgegee nie!
Ek wonder wie van ons bereid sal wees om deur al hierdie toetse te gaan vir die HERE. Ek weet, dis baie maklik om te sê “Ja, HERE ek is bereid”, maar gaan dink mooi. As jy vir die HERE gesê het jy is bereid om ‘n pad saam met Hom te loop, moet dan nie terug draai sodra die eerste nederlaag kom nie.
In Job 1:7-12 lees ons hoe die HERE vir satan gevra het of hy opgelet het na Job en hoe vroom hy is. Satan sê toe dat dit glad nie verbasend is dat Job so vroom is nie omdat hy alles het. Die HERE beskerm hom en sy huisgesin en die HERE seën die werk van sy hande. Waarom sal hy dan nie God vrees nie? Vat ‘n bietjie sy voorspoed weg en kyk of hy God sal vloek. Die HERE sê toe dat satan kan doen wat hy goeddink, maar Job se lewe mag hy nie neem nie.
Wat was Job se antwoord toe die slegte goed met hom begin gebeur? Die HERE het gegee en die HERE het geneem. Naak het ek in hierdie wêreld ingekom en naak sal ek daar uitgaan! (Job 1:21)
Wie van ons sal bereid wees om so te spreek?
Weer het satan gekom en Job met bose swere getref sodat hy later op ‘n ashoop gaan sit het en sy sere met ‘n potskerf gekrap het. (Job 2:7-8) Sy vrou het gekom en gesê dat hy God moet vloek en sterwe eerder as om so te lei. Sy antwoord aan haar was dat sy soos ‘n dwaas praat. Vir jare het hulle die goeie uit die hand van die HERE ontvang. Waarom dan nie nou die slegte ook nie!
Tot Job se vriende het hom later verlaat, maar nog steeds het Job die Naam van die HERE groot gemaak. Hy het geweier om die HERE te vloek.
Weer vra ek: wie van ons sal bereid wees om tot sulke uiterstes te gaan?
Die toetse wat ons deurgaan lyk skielik nou so klein en niksseggend as vir Job as voorbeeld gebruik, nè. Die geheim van ‘n krisis deurgaan lê daarin om jou oë op die HERE te hou. Moenie links of regs kyk nie. Hou aan, gaan voort en moenie ophou om die HERE te prys nie.
Ons verstaan nie altyd waarom sekere dinge met ons gebeur nie, maar weet dit dat daar altyd ‘n doel is. Die HERE is voortdurend besig met ons. Hy maak skoon en snoei die dooie takke in ons lewens weg sodat ons meer vrug vir Hom kan dra. Die snoei proses is pynlik, maar dis ‘n nodige proses as jy meer vrug wil dra.
As daar iemand is wat op hierdie oomblik deur ‘n krisis gaan en jy wonder waarom; hou net vas aan die kleed van die HERE. Onthou dat as die HERE jou in ‘n situasie kan laat beland dan kan Hy jou baie maklik daaruit kry ook! Moet net nie moed verloor nie, want as jy moed verloor, dan is alles verby!
Prys die Naam van die HERE!
