Satan besig is om baie die bruid van Jesus aan te val en weg te rokkel terug in die wêreld sonder dat hulle besef wat aangaan.
So lank as wat jy in Jesus bly sal jy geen begeerte hê om te sondig nie, maar mens bly mens en jy gaan altyd daardie begeertes hê wat van jou ‘n mens maak. Satan weet dit en hy gaan konsentreer op daardie menslike begeertes van jou om jou so aan te val.
Ek het vir jare gesukkel met ‘n baie vieslike begeerte en vir jare het ek probeer om daarvan ontslae te raak op my eie; ongelukkig sonder sukses. Ek weet, jy moet na Jesus toe gaan daarmee, wat ek ook op verskeie geleenthede gedoen het, maar daarna het ek die gedoen wat so baie doen en dit is om my pakkie net vir ‘n rukkie by Jesus te los voor ek dit weer kom haal en self probeer dra het! Ja, ek maak dieselfde foute as julle, want ek is ook net ‘n mens.
Dit het my my hele Christelike lewe gekos om uiteindelik uit te vind wat dit was wat ek verkeerd doen en dis net nou aan die einde wat Jesus besig is om ons almal in die Ark saam te trek dat ek uitgevind het hoe om dit reg te doen en dit is om eenvoudig die dinge te vermy wat jou laat struikel! Dis dinge hierdie wat ‘n mens laat huil as jy sien hoe baie tyd jy gemors het op dit wat voor die hand liggend was, maar dan is ons doel op aarde om te leer en leer het ek!
Nou sê Jesus dat ons in die Ark moet bly en nie ons voete daaruit moet sit nie. Satan het my hierdie week vreeslik aangeval en net op my swak punte; tot op so ‘n mate dat ek amper uit die Ark uitgestap het. Ek vertel julle hierdie dinge omdat ek weet dat ek nie alleen is nie, maar ook om aan julle te wys hoe hierdie aanvalle werk. Satan is slinks; hy gebruik jou swak punte teen jou en hy sal jou op geen ander manier aanval as deur jou swak punte nie.
As jy ‘n swak punt het om na vrouens te kyk dan is dit waarop satan sal konsentreer. Onthou dat dit nie ‘n skande is om te val nie. Ons is mense, ons doel op aarde is om te leer en nie om perfek te wees nie. Ek weet wat my laat struikel en daarom vermy ek daardie goed. Ja, die begeerte om te sondig is nog steeds daar en dit sal altyd daar wees, maar met Jesus kan ons daardie begeertes bestuur en uiteindelik gaan ons leer om dit te vermy. Dis waarom dit so belangrik is dat ons in Jesus se Ark moet bly, want as jy in die Ark bly, dan gaan jou bruilofskleed skoon bly en dis wat nodig is om in die wegraping geneem te kan word.
Let op dat jy twee soorte sonde kry: sonde wat jy per ongeluk doen en geen beheer oor het nie en dan kry jy willekeurige sonde wat jy volle beheer oor het om te kan keer. Om na ‘n ander vrou te kyk en haar te begeer is willekeurige sonde en so ook pornografie en ‘n hele reeks ander sondes wat ek nou nie eers wil noem nie. Hierdie is sonde wat jy met jou wil kan stop, want jy hoef nie na ander vrouens te kyk en hulle te begeer nie. Jy hoef ook nie na pornografie te kyk nie! Jy kan net sê NEE en dan kan satan jou nie aanval nie, want hy moet jou sover kry om op jou eie te sodig! Hierdie willekeurige sonde besmet jou bruilofskleed en dit anker jou aan hierdie aarde tot jy gaan vergifnis vra en Jesus daardie vlekke wegvat en daardie anker van jou losmaak.
As jy in die Ark van Jesus is, dan moet jou bruilofskleed skoon wees en mag daar geen ankers wees wat jou vashou op hierdie aarde nie. Dis geheel en al moontlik om te doen as jy in Jesus bly, maar satan is slinks en hy gaan sy uiterste bes doen om jou uit die Ark uit te laat loop op jou eie. Hoekom? Want satan kan nie in die Ark inkom nie, want dis Ark is Heilige Grond. Jy moet op jou eie daaruit loop en hy doen dit deur jou te verlei en jou te wys hoe mooi daardie flitsende liggies van die wêreld en sy begeerlikhede lyk. Pasop daarvoor!
Ons is die Bruid van Jesus en dis ons plig om ons Bruilofskleed skoon te hou deur ons begeertes onder beheer te hou en met Jesus aan ons kant KAN ons dit doen. Moenie dat satan vir jou vertel dat jy te swak is nie, want jy is nie! Dis ‘n leuen daardie!
Ek wil afsluit met ‘n getuienis van ‘n droom wat nie my eie is nie. Die persoon wat die droom gehad het, het gesê dat hy in ‘n saal van soort was mense wat in rye staan. Die eerste paar rye heel voor, was die wat se klere skoon en blink was, maar ‘n paar rye terug, was die wie se klere vlekke op gehad het. Hoe verder mens terug beweeg het met die rye mense hoe meer vlekke het die mense se klere op gehad. Toe die wegraping plaasvind, het die met die skoon klere so lig soos vere geword en opgestyg. Die met die vlekke het stadiger opgegaan soos mense wat gewigte in hulle klere gehad het en nie vinniger kon opstyg nie. Vir die ander mense wat meer vlekke gehad het, was dit ook so; hoe meer vlekke, hoe meer gewig het hulle gehad wat hulle teruggehou het.
Liewe Kind van God; ek wil jou nou mooi vra: as jy nog willekeurige sonde het waarmee jy in hierdie laat uur sukkel; dan vra ek jou om asseblief van hierdie goed ontslae te raak en by ons wat in die Ark is aan te sluit. As jy reeds in die Ark is en daardie flitsende liggies van die wêreld trek jou aan, draai dan om en stap terug in die Ark in. Onthou dat satan jou nie kan aanval as jy in die Ark is nie; hy moet jou eers daaruit lok en dis waarvoor jy moet pasop!
Neem hierdie waarskuwing baie ernstig op, want ons weet nie hoeveel tyd ons oor het nie. Persoonlik voel ek dat die tyd baie minder is as wat ons dink, so moenie meer met satan wil bal speel nie, want dis nie die moeite werd nie. Satan het net een begeerte en dis om so veel as moontlik van God se Kinders hier agter te hou sodat hy met hulle kan spot en hulle kan doodmaak. Wees daarom versigtig! Klou vas aan Jesus soos wat jy nog nooit het nie en vermy die sonde! Prys die Naam van Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
