Hy leef, Hy het opgestaan!

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Al die gelowe op aarde het ‘n leiers figuur gehad en al daardie gelowe kan vir jou wys waar daardie leiersfiguur begrawe is, behalwe een: die geloof in Jesus Christus!

Is dit nie wonderlik nie? Ons Koning LEEF! Hy is gekruisig vir ons sonde. Hy het gesterwe. Hy het opgestaan en Hy LEWE! Die graf is leeg; die liggaam is nie meer daarin nie! Prys die Naam van Jesus!

Deur hierdie een gebaar weet ons vandag dat daar vergifnis vir ons sondes is; maak nie saak wat jy gedoen het nie. Al was jou sondes rooi soos bloed, sal dit wit word soos sneeu! Geen oortreding is te groot om nie vergewe te kan word nie. Moenie dat satan met jou kop smokkel en vir jou vertel dat Jesus vir jou kwaad is en jou nooit sal vergewe nie. Dis ‘n leuen daardie en dis ontwerp om ‘n afgrond tussen jou en Jesus te bou solank as wat jy aanhou om dit te glo.

Omdat satan se leuens so baie na die waarheid klink, glo ons dit, maar dit bly nog steeds leuens! Die feit dat iets amper na die waarheid klink beteken nie dat dit waar is nie! Satan se uitsluitlike doel is om ‘n wig tussen jou en God in te druk met sy leuens en julle so van mekaar te skei.

Satan is slinks. Hy weet dat as jy by Jesus uitkom, al die goed wat jou so pla, skielik uit die weg geruim sal word en dat jou geloof so versterk sal word. ‘n Direkte uitvloeisel van ‘n sterker geloof is dat jy dan teen satan sal kan opstaan en ander teen hom sal kan waarsku en dit is wat hy probeer verhoed. Sien julle hoe slinks hy is?

Maar Jesus leef! Prys Sy Naam! Die pad na Sy Troon is net 50 sentimeter ver weg. Dis die lengte van jou voete na jou knieë. Gebed is die sleutel tot die koningryk van God. Bid en vir jou sal gegee word. (Mattheus 7:7)

Sommige van julle se gebed altare lê in stukke en die klippe is wyd en ver verstrooi omdat julle moed opgegee het. Gaan soek daardie klippe en bring hulle nader. Herbou jou gebed altaar op jou knieë. Jesus het nie moed opgegee oor jou nie. Dis ‘n leuen van satan daardie. Jesus leef, Hy het opgestaan en Hy wag vir jou om die eerste skuif te maak.

Hierdie is nog nie die tyd van veroordeling nie en Jesus wil jou nie veroordeel nie. Hy wil jou terug verwelkom, ‘n ring aan jou vinger sit en die mantel van die ewige lewe om jou skouers hang. Hy wil jou losmaak van daardie ketting wat satan om jou enkel gesit het en wat jou so vashou. ‘n Lewe van oorvloed in die Gees wag op jou, maar dan moet jy eers na Jesus gaan.

Mag die persoon vir wie hierdie boodskap is se ore oopgaan. Prys die Naam van Jesus!

(Visited 422 times, 1 visits today)
Tagged , , .

2 Comments

  1. Amen! Gebed is waarlik onmisbaar in ons verhouding met Jesus Christus en onse hemelse Vader.

Comments are closed.