Bly positief en vertrou op Jesus!

As mens deesdae kyk na alles wat om jou gebeur, dan is dit so maklik om negatief te raak en te wonder waar Jesus in alles wat gebeur is…

Ek kyk nie nuus nie en ek lees ook nie meer ‘n koerant nie, want al die negatiwiteit wat die bevat is genoeg om ‘n mens vir ‘n leeftyd te hou! Ten spyte daarvan kan ‘n mens jou nie isoleer en maak of dit nie bestaan nie, want almal praat daarvan! Dis oorloë, gerugte van oorloë, opstande en korrupsie op ‘n vlak wat ‘n mens laat wonder waar Jesus in alles is en waarom dit toegelaat word?

As daar een ding is wat ek deur die jare geleer het, dan is dit dat Jesus se pad nie ons pad is nie en daarom lyk dit vir ons asof Jesus nie meer teenwoordig is nie. Natuurlik kapitaliseer satan op gedagtes soos dit en probeer hy jou oortuig dat God nie bestaan nie, want dis wat hy doen en as hy dit nie doen nie, dan is hy nie die vader van die leuen nie!

Ons moet ook verstaan dat Jesus nie net werk met een persoon of een groep persone nie. Hy werk met ons, Sy getroue Kinders, die ateïste wat ontken dat daar ‘n God is en hy werk met die draadsitters wat geen keuse wil maak in watter kampie hulle wil wees nie. Hierdie laste groep is natuurlik die grootste.

Vir elkeen van hierdie groepe is dat wat nou in die wêreld gebeur ‘n getuienis; vir ons wat glo ‘n getuienis dat wat Jesus voorspel het waar is, vir die ateïste, ‘n getuienis dat God ‘n werklikheid is en vir die draadsitters ‘n getuienis van geloof sodat hulle moet glo.

Vir ons as Kinders van God is dit in hierdie tyd baie belangrik dat ons in die Gees moet wandel en op Jesus moet vertrou met alles wat ons het. As jy nog nie vir Jesus in beheer van hou lewe gesit het nie, dan is dit nou die tyd daarvoor, want dinge gaan nie makliker word soos ons verder gaan nie!

Wandel in die Gees, want as jy in die Gees wandel, sal die bekommernisse van hierdie wêreld jou nie oorweldig nie. Vertrou op Jesus en weet dat Sy beloftes nog steeds goed is, want Jesus het gesê dat niks met ons sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie! Julle kan dit maar gaan lees, want dit staan in Lukas 12:7 “Maar selfs die hare van julle hoof is almal getel. Wees dan nie bevrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” Daar is dus geen rede om te vrees of oor enige iets bekommerd te wees nie. Gooi daarom die bekommernisse van jou af, want om jou te bekommer oor wat rondom jou gaan is soos om vir water te sê dat dit nie nat moet wees nie! ‘n Gejaag na wind!

As ek so terugkyk in my lewe, dan was daar tye wat ek baie swaar gekry het, maar ten spyte daarvan het ek altyd genoeg gehad. Geld was min en ek kon nie sommer koop wat ek wou hê nie, maar nooit het ek honger gaan slaap nie! Op een of ander manier wat ek nie verstaan nie het Jesus gesorg vir my net soos Hy vir die voëls van die hemel sorg. Vertrou daarom op die HERE en moenie dat satan met jou brein smokkel nie, want hy sal as jy hom dit toelaat!

Ja, jy sal miskien nie oorvloed hê nie en jy sal net soos ek ook nie alles kan koop wat jy graag wil hê nie, maar jy sal nie vergaan nie en dit kan ek jou belowe! Vertrou op Jesus soos wat ‘n klein dogtertjie op haar pa vertrou. Hy swaai haar aan haar arms rond, tel haar op en dra haar op sy skouers en nooit het sy enige vrees dat pappa haar sal laat val nie. Dis presies dieselfde geloof wat Jesus by ons soek daardie!

Wees rustig en moenie jou oor enige iets bekommer nie, want Jesus weet wat Hy doen, selfs al weet ons nie. Bly positief en weet dat daar ‘n uitkoms is vir jou, selfs al kan jy dit nie nou sien nie.

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 305 times, 1 visits today)
Tagged , , , .