Jesus sê dat ons ons heupe omgord moet hou en ons lampies aan die brand met die olie van die Gees!
Kom ek lees vir julle die gedeelte wat ek gekry het soos dit in Luk 12:35-40 opgeteken staan.
“[35] Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. [36] En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop. [37] Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. [38] En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind gelukkig is daardie diensknegte. [39] Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie. [40] Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.”
Die mees wonderlikste eienskap van Jesus is dat Hy altyd vir Sy Kinders sê wat Hy gaan doen, voor Hy dit doen. Hierdie gedeelte is voorwaar so ‘n gedeelte en dit is om nie nou slap te lê nie. Jy het al sover gevorder en om nou op te hou hardloop aan die wedloop gaan ‘n skande wees!
“Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ‘n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee.” (Luk 12:32) Moenie vrees vir wat nou in die wêreld aan die gang is nie. Ons sien hoe alles uitmekaar val om ons, tot hier in Suid Afrika en dit maak ‘n mens moedeloos om dit te sien, maar onthou dat alles wat julle nou sien gebeur is net “window dressing” soos hulle in Engels sê!
Alles wat nou gebeur is net daar om die Antichris te laat goed lyk as hy na die wegraping kom en alles regmaak. Die mense gaan verwonderd agter hom aanhardloop as hy alles wat nou stukkend is regmaak, maar onthou dat dit nie gaan hou nie, want die doel is om hom in bewind van die wêreld te kry.
Moet dus nie bang wees vir wat julle nou sien gebeur nie. Solank jy onder die arm van Jesus bly met die Gees van die HERE oor jou, sal niks met jou gebeur nie. As iets sleg gebeur, dan kan jy berus by die feit dat dit die Wil van die HERE is. Onthou dat satan geen mag oor jou lewe het nie en dat al begeer hy hoe om dit te vat, dit nie aan hom behoort om te kan vat nie.
Moenie vergeet om te bid nie. Bid vir beskerming, bid vir vergifnis en bid ook vir die wat jou haat, want God se son skyn oor almal; die goeies en ook die slegtes. Ons het geen reg om te oordeel nie. Daardie is ‘n voorreg wat God die Vader alleen toekom.
Laastens wil ek afsluit met die volgende gedeelte in 2 Korintiërs 7:1 “Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring.”
Leef die Heilige Leefstyl in vrees van God en vermy alle besoedelings van die vlees. Julle weet, dis so maklik en in een oomblik van swakheid kyk jy waarna jy nie moet nie en dan is jou Bruilofskleed vol modder. Vermy hierdie dinge, liewe leser. Onthou, dit wat gaan kom is baie belangriker as dit wat nou is. Om alles op te mors vir ‘n kort rukkie van plesier is doelloos! Daar is ‘n rede waarom ‘n motor se voorruit so groot is terwyl die truspieëltjie so klein is en dis omdat dit wat voor jou is belangriker is as dit wat agter jou is. Hou dus jou oog op die prys van die Ewige Lewe en om waardig te wees om dit wat gaan kom te kan mis.
Mag die HERE hierdie boodskap aan talle harte seën! Prys Sy Heilige Naam!