Daar mag dalk nog een wees

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ek let die laaste ruk op net hoe gereed hierdie wêreld is om geoordeel te word en dit laat die getuienis wat ek vandag vir julle het net meer uitstaan.

Eers het Jesus vreeslike storms en ander weer verskynsels oor hierdie wêreld gestuur. Van hulle was so erg dat mense gesê het dat dit die ergste is in etlike dekades! Daarna het die peste gekom in die vorm van diere siektes en insekte en weer het die mense gesê dis die ergste in die geskiedenis van die mens. Jesus het snaakse verskynsels in die hemelruim gegee in die vorm van sonsverduisterings, bloed mane en asteroïdes wat gevaarlik naby die aarde verbygaan. Jesus het ‘n pandemie gestuur wat al meer as ‘n jaar en ‘n half op hierdie aarde woed.

Maar die mens is trots en het nog elke slag probeer om die mas op te kom sonder God en misrabel gevaal in die proses! Die geloof in God is weg! Dit sien ek elke dag in my persoonlike lewe waar mense eerder glo wat wetenskap en menslike kennis kan vermag as in die mag van God. Daar is egter ‘n baie klein groepie mense wat vasklou met alles wat hulle het. ‘n Klein groepie mense wat in die verwagting van die wegraping glo en die koms van die Seun van die Mens in die wolke verwag! Prys die Naam van Jesus!

Vir hierdie klien groepie mense sal die son van geregtigheid opgaan op daardie heuglike dag as Jesus hulle onder Sy vleuels wegruk van hierdie aarde om vir altyd by Hom te wees! Alle bekommernisse vir die wat op die aarde gaan agterbly gaan in ‘n oomblik verdwyn soos ons ons nuwe hemelse familie omhels en ons eie maak. Ons familie is tog immers die wat die Wil van die Vader doen net soos Jesus gesê het!

Ek het eenslag ‘n getuienis gelees van ‘n vrou wat ‘n droom gehad het. In haar droom het sy die engele van God gesien staan op die rand van die Hemel met die aarde onder hulle. Hierdie engele het leer harnasse aangehad en het gereed gestaan om die Kinders van God van die aarde af weg te pluk die oomblik as daardie basuin blaas! Die Engel Gabriel het tussen hulle gestaan. Sy sê dat sy nie geweet het hoe sy dit weet nie, maar sy het geweet dat dit Gabriel was. In sy hande het hy ‘n groot goue basuin gehad met die mooiste patroon werk in. Hy het die basuin opgelig en na sy mond gebring. Sy kon hoor hoe Gabriel sy asem optrek om die basuin te blaas, maar voor hy dit kon doen het Jesus op ‘n spier wit perd agter die engele opgery gekom en vir hulle gesê: “WAG! Daar mag dalk nog een wees!”

Daar mag dalk nog een persoon wees wat op die laaste oomblik gaan besluit dat Jesus tog die moeite werd is om te volg… Dis waarom ons nog hier is; ons wag vir daardie een persoon, maar Jesus gaan nie vir altyd wag nie. Die tyd vir hierdie wêreld is besig om baie vinnig uit te loop…

As jy daardie een persoon is wat hierdie lees, weet dat die tyd om jou keuse te maak nou is. Veel meer uitstel gaan daar nie gegee word nie. Jesus praat al lank met jou en jy weet dit. Maak daardie keuse en maak dit so gou as wat jy kan voor dit te laat is!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 74 times, 1 visits today)
Tagged , , , .