Deur geestelike oë

Iemand het my gevra hoe ‘n mens jou geestelike oë kan open en dit het my laat dink dat ek nog nooit ‘n boodskap hieroor geskryf het nie.

Om dit vinnig op te som, word jou geestelike oë geopen die dag as jy Jesus as jou verlosser aanvaar en die Heilige Gees in jou liggaam intrek. Dit gebeur net as jy ernstig is met Jesus en jou bekering. Die rede waarom ek dit so stel is omdat daar baie mense is wat sê dat hulle tot bekering gekom het, maar hulle lewens verander glad nie van die ou mens na die nuwe mens nie.

As iemand tot bekering kom is die verandering in daardie persoon se lewe nie soos van dag na nag nie. Jesus kan baie maklik iemand so vinnig verander, maar Jesus weet dat as verandering nie stelselmatig gebeur nie, dan lei dit tot rebellie en verwerping van die HERE en dit moet ten alle koste vermy word. Dis wat ons nie wil hê nie en dis waarom die verandering stadig en stelselmatig gebeur in daardie persoon se lewe. Dis nou te sê as daardie persoon ernstig was met sy bekering en dit nie net gedoen het om nie uit te voel by sy makkers nie. Ongelukkig kry jy gevalle soos dit en dis waarom daar so baie mense is wat sê dat hulle tot bekering gekom het, maar die vrugte van die Gees is glad nie in hulle lewens teenwoordig nie.

Dis nog ‘n punt wat ek graag wil aanraak en dis die vrugte van die Gees. Nadat iemand tot bekering gekom het, stap daardie persoon ‘n pad met Jesus met die Gees van God as sy metgesel. Dit gaan bitter moeilik wees om so ‘n pad met die Gees te stap en dan nie op mekaar af te vryf nie. Ek weet sommige van julle sal seker nie verstaan nie.

Het julle al gesien wat gebeur as twee mense in ‘n verhouding is? Aanvanklik trek hulle teen mekaar, maar soos die verhouding groei, begin die man dinge doen waarvan die vrou hou en die vrou dinge doen soos die man daarvan hou. Dis wanneer julle op mekaar begin afvryf en dit gebeur sonder dat jy moeite hoef te doen om dit te laat gebeur! Met die Gees gebeur dieselfde. Stelselmatig sal jy begin agterkom dat die Vrugte van die Gees besig is om in jou lewe te groei. Dis hoe jy weet dat die Gees van God in jou is en alles het begin die dag wat jy gered is! Is Jesus nie wonderlik nie?

Soos jou verhouding in Jesus deur die Gees van God groei, sal jy oortuig word van reg en verkeerd; dis nou waarvan die Gees hou en waarvan die Gees nie hou nie. Dis wanneer jou geestelike oë geopen word. Jy sal outomaties weet wanneer iets reg is en wanneer nie. Jy gaan nie altyd weet hoe jy dit weet nie, maar jy gaan dit weet.

Dis deur ons geestelike oë dat ons die Bybel verstaan, want die Gees oortuig ons van die waarheid daarvan. Dis ook hoe ons weet dat die wegraping van die Bruid baie naby is, want die Gees wys dit vir ons. Mense dink dat ons wat geestelik kan sien, van ons koppe af is, maar dis nie so nie.

Ek het eenslag die getuienis van ‘n man gehoor waarin die HERE in ‘n droom vir hom gewys het hoe die geestelike wêreld lyk wat ons nie kan sien nie. Hy het beskryf dat die wat nie gered was nie rondloop met iets wat lyk soos ‘n baie donker wolk om hulle koppe sodat hulle nie kon sien nie. Die demone wat aangesê is vir hierdie persoon het gesorg dat daardie donker wolk die hele tyd daar is e dat dit so dig bly as moontlik.

Die wat gered was, was anders. Die persoon het hulle beskryf soos ‘n baie skerp lig wat in ‘n digte sak gehou word. Uit elke gaatjie skyn daar lig uit. So was die wat gered was; oral het lig uit hulle uit geskyn en daar was geen donkerte enige plek naby hulle nie. Hulle oë was geopen en hulle kon sien waarheen hulle op pad was.

Hierdie twee beskrywings wat vir my so treffend, want dit het verklaar waarom sekere mense so blind was vir die Geestelike. Self ken ek mense soos dit. Hulle stry met jou uit die Woord van God uit asof hulle dit beter ken, maar hulle stry uit hulle eie blindheid uit… Ek raak nie kwaad vir sulke mense nie, want ek verstaan dat hulle blind is en uit absolute onkunde stry, maar ek kry hulle baie jammer. Dis waarom dit so moeilik is om iemand soos dit te oortuig van die lig, want hulle sien glad nie die voordeel nie.

Daarom liewe leser, vertroetel daardie lig in jou en bewaar dit, want dis jou sig in vandag se lewe! Moenie aan die wêreld gelykvormig word nie, want dit sal die lig in jou verdoof. Onthou, dat Jesus se liefde deur die Heilige Gees in jou brand soos ‘n vuur. Hoe meer intens daardie vuur brand, hoe kleiner is satan se kans dat hy enige iets in jou lewe gaan kan reg kry.

Dis soos om in die bosveld te kamp en ‘n vuur te maak om die wilde diere weg te hou. Aanvanklik hoor jy die leeus en die hahiënas ver huil, want hulle is bang vir die vuur, maar soos die vuur dood gaan en al hoe kleiner word, so kom die leeus en die hahiënas al hoe nader!

In ons geestelike lewe gaan dit net so; hoe meer jy aan die wêreld gelyk wees, hoe meer kry satan reg in jou lewe, want die vuur die van Gees brand nie so hoog in jou lewe soos dit moet nie.

Ek bid dat hierdie boodskap aan julle almal se harte geseën sal wees, maar as daar vrae is, sal ek dit met graagte antwoord!

(Visited 330 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .