Deur baie verdrukkinge

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

As ons deur versoekinge val, dan word ons baie kwaad vir onsself, want hoe kan dit dan gebeur: ons probeer dan so hard om nie te swig nie…

Self kan ek nie vir julle sê hoe baie keer ek daardie woorde al gevra het nie. “Waarom, HERE? Hoekom is ek so swak? Gaan dit ooit verbeter?” Weet julle wat? Dis jou menslikheid wat daardie vrae vra en jy vra dit omdat jy graag perfek wil wees vir Jesus. Jy het so ‘n begeerte om perfek te wees, dat jy dit as ‘n persoonlike neerlaag sien as jy val en dis nie wat dit is nie.

Paulus en Barnabas het op geleentheid in Listre aangekom en die evangelie begin verkondig. (Handelinge 14) Daar het hulle ‘n man wat van geboorte af lam was en nog nooit kon loop nie, gesond gemaak. Die Lakoniese mense het gedink dat hulle gode was wat afgedaal het om tussen hulle te loop. Paulus het met groot moeite probeer om hulle anders te oortuig, maar hy het dit nie heeltemal reggekry nie. Uiteindelik het hy sy klere gekeur en onder hulle uitgeloop. Later in die hoofstuk uiter hy hierdie woorde: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan.” (Handelinge 14:22)

Julle sien, verdrukkinge is deel van die groei proses in Christus. Vir jou om te sukkel met versoekinge en te val is ook deel van daardie groei proses. Moet daarom nie so hard wees op jouself en jouself probeer skop oor jou eie swakheid nie. Met tyd sal jy ook sterker word en daardie versoeking leer oorkom, maar vir nou dra jy ‘n kruis vir Jesus. Daardie kruis is swaar en hy skaaf seer, maar dis ons kruis en ons moet hom dra as ons ‘n dissipel van Jesus wil wees.

Ons verstaan nie altyd die waarom nie, maar ek kan julle verseker dat daar ‘n rede voor is. Die swaarste lasse word gegee aan die wat die sterkste is om dit te kan dra. So help ons iemand anders om sy las te kan dra; ‘n las wat miskien te swaar is vir daardie persoon om self te dra. So leef ons Jesus se gebod om mekaar lief te hê uit sonder dat ons dit besef.

As jy val, moenie vir jouself kwaad wees nie. Gaan na Jesus en vra vergifnis. Tel dan jou pak op en loop verder. Moet asseblief nie jouself loop en skop nie, want dit gaan niks vermag nie. Satan wil hê dat jy dit moet doen, want dan is jou konsentrasie op jou oortreding, in plaas van op Jesus. Slim né?

Jare gelede was daar ‘n TV reeks op TV oor die Miljoen Dollar Man. Ek weet nie wie van julle dit sal onthou nie. Die slagspreuk van daardie reeks was: “Beter, Sterker, Vinniger”. Dis wat ek wil hê julle moet onthou vandag. Met elke versoeking word jy sterker, beter en vinniger vir Jesus! Prys Sy Wonderlike Naam! Is Jesus nie wonderlik nie?

Die dag gaan kom wat Jesus daardie kruise van ons skouers af gaan lig en dan gaan ons alles verstaan, maar tot daardie dag, dra jou kruis met waardigheid, liewe leser!

Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 160 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .