Kom ons wees eerlik: hoeveel van julle het al gewonder of die gebed wat jy bid werk en ja; ek steek my hand saam met julle op!
Ons as mense is maar baie ongelowig en ons sukkel om te glo aan dit wat ons nie kan sien nie. Dis waar daardie spreekwoord van “sien is glo” sy oorsprong het! Dis waarom Jesus vir ons in Markus 11:24 sê: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.”
Vanoggend het Jesus vir my daardie bekende gedeelte in Handelinge 27 gegee waar Paulus per skip op pad was na Italië en waar die skip in ‘n storm beland het en uiteindelik op die eiland “Melite” gestrand het. Paulus se geloof regdeur hierdie ondervinding was onwrikbaar! Hy het absoluut geglo wat die HERE deur die Gees aan hom bekend gemaak het en dit was dat nie ‘n haar van enige iemand se koppe sou val solank as wat hulle aan boord van die skip bly nie en dit was ook so!
Eers wou die matrose vlug, maar Paulus het dit aan die Hoofman oor ‘n Honderd bekend gemaak en hulle het die matrose gekeer om te vlug. Daarna wou die soldate die prisoniere doodmaak om te keer dat hulle ontsnap, maar die Hoofman oor ‘n Honderd het hulle gekeer, maar einde ten laaste is almal gered! Prys die Naam van Jesus!
Wat ek julle nou gaan vertel het baie jare gelede gebeur in die laat 1990’s. Ek het kantoor ure gewerk in die polisie en het saam met iemand elke oggend werk toe gekry. Ons het daardie oggend in Milton weg in Goodwood (Wes Kaap) afgekry tot by die aansluiting met die N7 snelweg. Hierdie aansluiting was ‘n gevaarlike een, want motors wat wil aansluit op pad na die N1, moes in die vinnige baan aansluit met genoeg spoed om nie opeenhopings te veroorsaak nie. Die aansluit pad is ‘n lang reguit pad en om die nodige spoed te kan opbou om te kan aansluit is dus nie ‘n probleem nie.
Toe dit ons beurt was om aan te sluit het die bestuurder van die voertuig begin versnel. ‘n Swaar voertuig was in die vinnige baan, maar omdat ons in ‘n motor was, wat vinniger kon verstel, sou ons lank voor die swaarvoertuig kon aansluit en so nie ‘n probleem vir hom veroorsaak nie. Wat ons egter nie geweet het nie, was dat daar ‘n minibus taxi langs die swaarvoertuig in die stadige baan was wat dieselfde plan as ons gehad het…
Hierdie minibus taxi se plan was om by die swaarvoertuig verby te snel en dan in die vinnige baan in te draai net soos ons van plan was om te doen. Teen die tyd dat ons bewus van die minibus taxi geword het, was dit klaar te laat. Nodeloos om te sê; die minibus taxi was oorlaai met 25 mense in plaas van die toegelate 16 en toe ons insny het ons ‘n perfekte “pit maneuver” op die taxi gedoen sonder dat dit die bedoeling was. Ons motor se neus het die taxi regs agter getref en die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor.
Ek het al gehoor dat hulle sê dat ongelukke in stadige aksie voor mense afspeel, maar om dit te beleef is heeltemal anders as om daaroor te skryf! Die taxi het links en regs oor die pad geswaai met die bestuurder wat verbete probeer het om beheer te behou, maar die ekstra vrag wat hy gedra het, het dit onmoontlik gemaak. Ek kan onthou dat ek hardop gesê het: “HERE, help asseblief!”
Die taxi het op sy sy omgeslaan en etlike meters ver oor die pad gesleep voor dit tot stilstand gekom het. Nou kom die gedeelte wat my tot vandag verbaas en dit is dat Jesus geluister het! Prys Sy Wonderlike Naam! Die passasiers van die taxi; al 25 van hulle, het een vir een uit die taxi geklim; sommige met skrape en ander met stywe ledemate, maar niemand en ek bedoel niemand is gedood of ernstig beseer nie!
As julle gedien het hoe daardie minibus taxi gelyk het, dan sou julle seker beter verstaan het, maar wat ek daardie dag gesien het, was ‘n absolute wonderwerk! Een baie kort gebed het gemaak dat almal oorleef het sonder enige ernstige beserings! Nou vra ek dat as Jesus dit kan doen met ‘n kort drie woord gebed, wat kan Hy nie doen met ‘n volle gebed met geloof daar agter nie?
Daarom liewe lesers; moet nooit die krag van gebed onderskat nie! Ek gaan baie eerlik wees as ek sê dat ek nie verwag het dat iets sou gebeur nie, maar ek het geglo dat Jesus my verhoor het en Hy het! Jesus hoor elke gebed wat jy bid en dit kan jy glo; selfs kort drie sin gebede! Jy is nooit ooit alleen as jy ‘n Kind van God is nie en daarvan kan ek vandag getuig! Jesus is daar en Hy luister! Hou dus moed, liewe leser, want jy bid nie verniet nie! Prys die Naam van Jesus!
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
