As ek van onderskeiding praat, dan verwys ek nie na die Gawe van die Heilige Gees soos in 1 Korintiërs 12 opgeteken is nie.
Ek bedoel die onderskeiding van reg tussen verkeerd; God van satan. Dis die tipe onderskeiding wat ek van praat, maar voor ek verder gaan het ek eers ‘n getuienis wat ek met julle wil deel. Die getuienis gaan oor die persoonlike ondervinding van ‘n Britse man. Hy het tot ‘n boek oor sy ondervinding geskryf om mense te waarsku hoe belangrik dit is om te kan onderskei tussen reg en verkeerd.
Hy begin sy getuienis deur te sê dat hy in ‘n huis groot geword het waar Jesus glad nie gedien was nie. As kind het hulle nooit kerk toe gegaan nie en het hy ook nie geweet wat Sondag Skool is nie. Hy het die eerste keer van Jesus by van sy maatjies gehoor.
Sy lewe het bestaan uit skool/werk toe gaan, eet en slaap, maar iets het vir hom gesê dat daar tog meer in die lewe moet wees as dit. Wat is die doel van die lewe as dit net bestaan uit werk, slaap en eet? Hy het ‘n leemte in sy lewe begin voel asof daar iets weg is; iets wat hy iewers verloor het. Dis waarom hy begin het om te lees, want iewers moet daar ‘n antwoord wees.
Eendag het hy in ‘n boekwinkel op ‘n christelike boek afgekom en dit begin lees. In die boek het die skrywer uitgebrei oor die geestelike wêreld, God en satan. In die boek het die skrywer ook verduidelik hoe om met God te kan kommunikeer. Hy het die boek gekoop en dit huis toe gevat. By die huis het hy die boek aandagtig gelees en daarna stap vir stap die instruksies daarin begin uitvoer. Tot sy verbasing het die “here” met hom begin praat en dit was glad nie moeilik om te doen nie! Daarna het hulle elke aand vir lang rukke gesels.
Hy was so bly oor sy nuwe vermoë, dat hy dit graag met iemand wou deel, maar hy kon nie net in die straat inloop en vir die eerste beste persoon sê dat hy met Jesus praat nie! Saam met hom het ‘n Christen vrou gewerk en hy het besluit dat as iemand sou verstaan dat dit sy sou wees. Een oggend by die werk het hy haar afgesonder en vir haar gesê wat gebeur het. Sy het aandagtig na hom geluister en toe vir hom gesê dat sy nie weet met wie dit is wat hy praat nie, maar dat dit baie beslis nie Jesus is nie! Hy kan egter die gees wat met hom praat verplig om die waarheid te praat deur die Naam van Jesus. Wat hy moes doen was om die gees te beveel om in die Naam van Jesus vir hom te sê wie hy is.
Tot op daardie stadium het hy nog nooit daarvan gehoor dat ‘n mens die Naam van Jesus kan gebruik vir dinge soos dit nie, maar hy was nuuskierig en wou weet met wie hy gesels. Daardie aand het hy presies so gemaak en toe hy die gees konfronteer het die stem wat altyd so sag en liefdevol was, skielik hard en baie gemeen begin word. Hy het egter voet by stuk gehou en die gees in die Naam van Jesus beveel om hom te sê wie hy is en dis toe dat hy die skok van sy lewe kry wat die stem was niemand anders as Lucifer self nie! Hy het toe besef met wie dit is wat hy al die tyd gesels het en hoe daardie boek hom verlei het. Hy het daar en dan sy hart vir Jesus gegee en by sy werk vriendin se sel groep aangesluit.
Sien julle hoe maklik kan ‘n mens verlei word as jy nie kan onderskei nie. Verstaan julle nou waarom ek gesê het dis ons almal se plig is om te leer onderskei en waarom jy jou siel op die spel plaas as jy dit nie doen nie of te lui is om dit te doen?
In 2 Korintiërs 11:13-15 waarsku Jesus ons juis om te kan onderskei: “[13] Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. [14] En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. [15] Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie.”
Om verlei te word is dus niks besonders nie en dis ook waarom ons nooit mag sê dat dit NOOIT met ons sal gebeur nie! Nooit is gouer as ooit! Daar is net een oplossing! Ken Jesus in AL jou weë! As jy nie seker is oor iets wat jy gehoor het nie, gaan daarmee na Jesus toe. Vra Hom en Hy sal aan jou uitwys wat die waarheid is!
Pas ook op vir die opinie van ander! Mense is so geneig om opinies te volg! Omdat iemand van gesag so gesê het moet dit tog reg wees! Dan, binne in ommesientjie, verkondig ons iemand se opinie in plaas van luister na die stem van Jesus! Net omdat ‘n leraar ‘n kerk van 5000 mense het en al 25 jaar in die bediening staan, beteken nie dat hy altyd reg is nie. Vra vir Jesus as jy nie seker is nie! Ek gaan myself hierby insluit! Ek is net ‘n mens wat die Heilige Woord van die HERE bedien, maar as jy nie seker is nie, vra vir Jesus. Ek sal baie bly wees as julle dit sal doen! Die laaste ding wat ek wil doen is om Jesus se Woord te verdraai en Sy skape verkeerd te lei!
Leer daardie onderskeiding aan, liewe leser. Gesels met Jesus sodat Hy aan jou kan bekend maak hoe lief Hy jou het en hoe graag Hy jou by Hom wil hê.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!