Christelike Noodhulp

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Wanneer u ‘n krisis op hande het, onthou Jesus se woorde: “LAAT julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My.” (Johannes 14:1)

Vir Jesus se dissipels was Sy gevangenskap en kruisiging ‘n krisis van epidermies proporsies, want baie van hulle het alles wat hulle gehad het in die lewe opgegee om saam met Jesus te wees. Ek verwys nou na besighede, familie, hoop en drome. Alles dit het met ‘n harde slag aarde toe gekom met Jesus se arrestasie en die daaropvolgende kruisiging, want uit hulle oogpunt was Jesus nou verslaan! Ek is seker dat baie van Jesus se dissipels gewonder het hoe lank dit sal vat voor hulle ook gekruisig sou word en of hulle die regte ding gedoen het om Hom te volg! Tog het Jesus voor alles vir hulle gesê: “LAAT julle hart nie ontsteld word nie”, met ander woorde, “Moenie bekommerd wees nie.”

Daardie woorde van Jesus: “LAAT julle hart nie ontsteld word nie”; dis die eerste stap in Christelike Noodhulp. Krisisse gaan daar altyd wees, maar as dit kom, gryp eerste na jou noodhulp en “Moenie bekommerd wees nie.”

Ek was vir baie jare lank ‘n polisieman en ek het verskeie tonele bygewoon waar mense dood is of baie seer gekry het. Ek het self gesien hoe polisiemanne die kluts geheel en al kwyt raak omdat die skok van die situasie vir hulle te veel geword het. Ek kan vir julle een ding sê en dit is dat dit in hierdie oomblikke is wat jy jou God werklik leer ken! Dan leer jy om koel en kalm te bly terwyl almal om jou kop verloor! Die eienaardigste is dat as jy kalm is, dan wys die Here vir jou wat jy moet doen.

Krisisse gaan daar altyd wees. Ons kan dit nie voorkom nie, maar as jy gereed is en vashou aan Jesus se woorde, dan kan jy keer dat die krisis jou oorweldig, maak nie saak waarmee jy te doen het nie. Moenie jouself te kort doen nie. Ons is almal net mense, maar ons het die Heilige Gees van die een Ware God in ons en daarom kan ons keer dat ‘n krisis ons oorweldig! Jesus sou nooit gesê het: “LAAT julle hart nie ontsteld word nie”; as dit nie moontlik was vir ons om enige krisis die hoof te kan bied nie. God wil in baie gevalle net hê dat ons daardie eerste stap moet neem, dan val al die ander dinge vanself in plek, want dan loop Hy saam met jou!

God sal jou die krag gee om elke krisis te kan oorkom, maar dan moet jy eers daardie eerste hulp kassie oopmaak en nie meer bekommerd wees nie. Petrus sou nooit op sy eie op die water van ‘n stormagtige see kon geloop het nie. Toe hy die noodhulp kassie oopmaak en nie meer bekommerd was nie, toe loop hy op die water na Jesus toe. So kan jy ook met al jou probleme doen; jy kan bo-oor hulle loop! Prys die Naam van Jesus!

In 1 Petrus 5:8 lees ons: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind.” As jy in jou lewe nog nooit met satan gebots het nie, dan is dat omdat jy en hy in dieselfde rigting op pad is. Begin egter om teen die stroom op te swem deur God se plan te volg en dan sal jy weerstand van hom af kry en sommer baie ook! Dis dan wanneer jy moet weet waar jou noodhulp is en hoe om dit te gebruik!

Prys die HERE vir hierdie boodskap!

(Visited 336 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , .