Iemand het hierdie getuienis baie lank gelede vir my gestuur. Dit het na bewering op 28 Januarie 2012 gebeur.
Ons verstaan nie altyd die krag van gebed of die leiding van die Gees nie en baie keer skud ons die gevoel af as lawwigheid… Dis dan wanneer Jesus vir ons op Sy manier wys net hoe kragtig gebed en die leiding van die Gees is, maar eers gaan ons begin met twee gedeeltes uit die boek van Psalms.
“[1] Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! [2] Dit moet die verlostes van die HERE sê, wat Hy uit die nood verlos het.” (Psalm 107:1-2)
“[22] Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor! [23] Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.” (Psalm 22:22-23)
Ons woon op die soom van die see soos party mense van hier rond sal praat; aan die ongerepte kant van Mosselbaai, reg by die pragtige kranse waar jy die branders soms kan hoor raas!
Saterdagoggend, 28 Januarie 2012, het ek baie vroeg wakker geskrik en alleen by die Poort gaan swem. Ek het sommer so op my eie op die rotse sit en droog word in die oggendsonnetjie. Terwyl die hoë branders so inkom en hard in my ore druis, het ek met die Here sit en praat en God gevra om Sy mag ook só in my lewe te vertoon, sodat dit kan sigbaar wees vir almal… ook vir dié wat nog twyfel in Sy bestaan.
Kort daarna het ek ‘n vreemde dringendheid begin voel om die Bloed van Jesus oor my geliefdes te begin pleit. As ek terugdink, het ek dit ‘n paar keer daardie dag, hardop geprewel. “Bloed van Jesus oor my man… oor my ouers… oor my kinders…”
Saterdagmiddag, het ek met my twee dogters (14 en 5) en ‘n maatjie (5) vanaf Santos Strand teruggekom by die huis. Die kinders, agterop die oop bakkie. Ek het by die steil oprit van ons huis opgery tot teenaan die hek en self uitgeklim om die hek oop te stoot.
Terwyl ek nog besig was om die hek oop te stoot, het my ergste vrees waar geword. Ek het my oudste dogter hoor skree en toe ek omkyk, sien ek die bakkie, met al drie kinders agterop, teen ‘n spoed terugloop na die afgrond reg agter hulle! Sonder om te dink, het ek so vinnig as wat ek kon, probeer om die bakkie te vang en te probeer stop, maar nodeloos om te sê; ek was te laat.
Al wat ek kon uitkry terwyl ek saam met bakkie en al oor die afgrond val/gly is “HERE, HELP MY!” en op daardie oomblik het tyd gaan stilstaan. Terwyl ek so deur die lug trek saam met die bakkie of so het dit op daardie oomblik vir my gevoel, speel die grootste tragedie in my kop af waar ek my eie kinders, en die kind van ‘n ander vrou, vermink en dood onder die wrak van ‘n omgekeerde bakkie uithaal.
Sekondes later kom die bakkie op ‘n plat stuk aarde ongeveer 20 meter ondertoe wonderbaarlik op sy vier wiele tot stilstand! Dit nadat die bakkie op een of ander wyse, met die momentum, skerp regs uitgeswaai het na waar ‘n platter stuk grond is! Nog voor die stof letterlik gaan lê het, en ek myself uit die bos kon loswikkel waarin ek geval het, sien en besef ek met die grootste ongeloof, dat al drie kinders nog net so agterop die bakkie sit, sonder ‘n enkele skrapie op enigeen se lyfie!
Minute later speel en swem die kleintjies weer en my tienerdogter troos heeldag vir Ma wat nie kan ophou huil en glo haar kinders leef nog nie! Eers later daardie dag herinner die Heilige Gees my aan my gebed vroeër die oggend, en ek WEET ongetwyfeld dat Hy Sy Almag vertoon het en dat almal, bure, familie en vriende, aangeraak, aangegryp en steeds in verwondering staan oor die WONDERWERK wat (reg voor ons oë) plaasgevind het.
Selfs die bakkie was behalwe vir ‘n handrem wat stywer gestel is en ‘n stukkende modderskerm flap, ook heeltemal ongeskonde!
Ek prys God elke dag vir Sy groot, onvoorwaardelike, onverdiende goedheid en genade, ek prys Jesus vir sy duur bloed van beskerming en ek prys die Heilige Gees vir Sy getrouheid.
Psalm 18:16-17 “[16] En die beddings van die waters het sigbaar geword, en die fondamente van die wêreld is blootgelê vanweë u dreiging, o HERE, vanweë die geblaas van die wind van u neus. [17] Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my gegryp, Hy het my uit groot waters getrek.”
Psalm 30:4 “HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.”
Ek kan nie anders as om te glo dat God ‘n engel moes gestuur het om daardie dag die omstandighede so te bewerk dat ek en al drie kinders nog LEWE nie!
Psalm 34:8 “Die Engel van die HERE trek ‘n laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.”
Hallo, ek wil graag weet hoekom/op grond van watter vers/deel van die bybel bid mens die bloed van Jesus as beskerming? Het Jesus se bloed nie gevloei om ons te bevry van ons sonde nie? Ek dink en wonder al lank hieroor