Gaan nie agter hulle aan nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Mens kan die Bybel verskeie kere lees, tog kom daar verse op wat jy nog nooit gesien het nie.

Daar is deesdae so baie Internet profete, veral op You Tube en almal maak voorspellings oor wanneer Jesus gaan kom. Tye word op wiskundige manier uitgewerk, vergelykings gemaak; dis net nie snaaks nie.

“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (Mattheus 25:13)

Ek kan julle verseker dat daardie dag ‘n totale verassing gaan wees vir ons wat Kinders van die HERE is en die wat in die wêreld is. Jesus hou van verassings en Hy hou daarvan om jou iets te wys wat jy nog nooit voorheen gesien het nie. Ek kan vir julle verseker dat Jesus ‘n ongelooflike sin vir humor het. Jy gaan nooit weet wat volgende gaan kom nie en dis ‘n belofte!

Ons sal wel weet wanneer die tyd naby is, maar dit is die naaste wat ons ooit sal kom. Die rede daarvoor is omdat tyd vir God van geen betekenis is nie. Ons bestaan is liniêr. Dit beteken dat ons lewens op ‘n reguit lyn loop van die dag dat ons gebore word tot die dag dat ons doodgaan. God beweeg in tyd; verlede, hede en toekoms gelyk. Dis waarom dit so moeilik is om te bepaal wanneer die wegraping gaan plaasvind.

Jesus weet dit en dis waarom Hy ons gewaarsku het om ons nie te steur aan mense wat ‘n datum en ‘n uur aan hierdie gebeure wil gee nie. Het julle al ooit opgelet dat nog nie een van hierdie voorspellings waar geword het nie?

“En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.” (Lukas 21:8)

Ek wil hê dat julle veral moet oplet na die tweede gedeelte van hierdie vers naamlik dat die tyd naby is en dan dat ons nie agter hulle moet aangaan nie. Hierdie is die gedeelte wat ek nog nooit raakgesien het nie en ek het dit al so baie gelees!

Pas dus op vir mense wat voorspellings maak, liewe lesers. Jy gaan net teleurgesteld anderkant uitkom as jy na hierdie mense gaan luister. Vertrou eerder op die leiding van die Gees as op mense met slim berekeninge.

Prys die Naam van Jesus vir hierdie Woord van wysheid.

(Visited 73 times, 1 visits today)
Tagged , , , .

One Comment

  1. Amen vir die boodskap!
    Vele en nog meer gaan na vore kom veral in die tyd wat ons nou leef, asof ons nie self besef “iets” is aan die kom nie!
    Ek self het ook onlangs n nuwe vers ontdek al het ek dit baie kere al gelees . . .
    Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan. Lukas 21 : 36 en die stuk wat my getref het was ” sodat julle waardig geag mag word.
    Dit is iets wat min oor praat of op fokus . . . ons moet waak en bid WANT daar is n SODAT . . .

Comments are closed.