Moenie vrees nie

Moenie vrees nie geliefdes van die Vader, want die Vader het ‘n welbehae gehad om aan julle die Koningryk van die Hemele te gee.

Julle het seker al opgelet hoe deurmekaar die wêreld op die oomblik is. Dis waarom Jesus hierdie boodskap vandag vir ons het; om ons te kalmeer en vir ons te verseker dat dit wat ons op die oomblik sien gebeur, ons nie sal raak nie en daarom hoef ons nie te vrees nie. Dit wat julle sien gebeur is nie vir die gelowiges nie, maar vir die ongelowiges sodat hulle moet weet dat daar ‘n God is wat oor lewe en dood beskik. Sommige gaan gehoor gee, maar nie almal nie.

Julle vreesloosheid gaan vir baie ‘n lig in die donker wees om te volg. Laat daarom jou lig skyn sodat die wat in die donker is na die lig toe kan kom. Wees vir hulle ‘n voorbeeld in heiligheid en in handelswyse sodat hulle kan leer. Jou lewe nou gaan vir die wat agterbly ‘n voorbeeld wees om te volg.

Weet dat die Woord van die HERE waar is en dat niks met jou sal gebeur sonder die Wil van die Vader nie. Selfs al val alles om jou uitmekaar uit, weet dat jy bonatuurlik beskerm sal word deur die Vader. Nie eers ‘n haar sal van jou kop af val sonder die Wil van die Vader nie.

Daar is daarom geen rede tot vrees nie. Moenie dat satan jou versoek met vrese nie. Bestraf hom en hy sal van jou af wegvlug. Prys die Naam van Jesus!

Mag die HERE hierdie kort boodskap aan julle harte seën!

(Visited 199 times, 1 visits today)
Tagged , , , .