Die bruilofsaal is gereed; almal is genooi en hierdie is ‘n oproep vir die genooides om hulle plekke in te vat!
In Mattheus 22 lees ons hoe Jesus weer met die mense deur gelykenisse begin gepraat het. Hy het hulle die verhaal vertel van ‘n Koning wat ‘n bruilof vir Sy Seun berei het en toe Sy diensknegte uitgestuur het om die genooides te gaan roep. Tot almal se skok en verbasing wou nie een van hulle na die bruilof kom nie!
Die Woord sê vir ons dat almal weggegaan het; die een na sy eie handelsaak en die ander na sy eie stuk grond. Die res wat oorgebly het, het die koning se diensknegte gegryp en hulle mishandel of selfs doodgemaak!
Toe die Koning dit hoor, het Hy baie kwaad geword en sy manskappe gestuur om die moordenaars om te bring en hulle stad aan die brand te steek. Daarna het die Koning aan sy diensknegte gesê dat die bruilof wel gereed is, maar dat die gaste dit nie werd is nie! Hy het beveel dat hulle moet uitgaan na die strate en almal nooi; goeies sowel as slegtes en so het die bruilofsaal vol geword.
Wat is dit wat Jesus vir ons probeer sê? Hy verwys natuurlik hier na die oploop na die wegraping en hoe hard die Kinders van die HERE mense probeer oortuig van hierdie bruilof en dat hulle uitgenooi is om dit by te woon. Maar soos ons vandag sien; stel min mense belang in hierdie bruilof. Almal vandag is net te besig met hulle eie lewens om geld te maak en te sorg vir hulle eie gemak by aftrede as om bekommerd te wees oor die ewigheid. Die wat wel lyk of hulle belangstel, gryp die Kinders van God en mishandel hulle of maak hulle selfs dood!
Hoe waar het die skrif nie geword nie! Ek wil amper sê dat ek Jesus kan hoor sê: “Was die grond dan nie goed nie; het Ek dan nie goeie saad gesaai nie; waar is My oes dan?”
Julle weet; dis hart verskeurend om te sien hoe die wêreld agteruit gaan en hoe almal verbaas is daaroor en nie kan verstaan wat verkeerd gegaan het nie… Maar dis wat gebeur as jy vir Jesus vra om jou uit te los sodat jy jou eie ding kan doen soos jy dink dit moet wees in plaas van om jou lewe in die Hande van die HERE te sit!
Ons straf nie meer ons kinders as hulle fouteer nie, want die slim mense sê dat dit hulle sielkundig sal afbreek. Nou sit ons met ‘n hele generasie jong mense wat geen rigting of dissipline het nie, nie reg van verkeerd kan onderskei nie en dan wonder ons waarom? Ons maai nou wat ons so versigtig gesaai het! Ons het die vryheid van keuse om self te kan besluit wat ons wil doen of nie wil doen nie, maar dit beken nie dat ons vry is van die gevolge van daardie keuse nie!
Mense dink dat Jesus ‘n pretbederwer is wat ons wil onderdruk, maar dis die teenoorgestelde wat waar is! Jesus ken die gevare van ongehoorsaamheid en sonde en Hy probeer desperaat om jou te weerhou van die vernietigende gevolge van daardie sonde. Jesus weet dat ‘n klein foutjie nou, kan lei tot jare van spyt en bittere swaarkry en Hy wil maar net nie hê dat dit met jou moet gebeur nie.
Gelukkig is Jesus nog nie klaar met ons nie; want almal van ons; geredde of ongeredde, bly ‘n uitgenooide na die Bruilof van die Lam! Dis nog nie te laat vir enige iemand nie, want plek is voorberei vir die goeies en die slegtes! Almal kan gered word en al wat jy hoef te doen is om jou knieë te gaan en te vra vir vergifnis! Jesus staan gereed om jou wonde te genees en jou te herstel, maar dan moet jy vra daarvoor. Onthou dat die Gees van God ‘n ware Heer is en dat Hy niks sal doen voor jy nie daarvoor vra nie.
Die Bruilofsaal is gereed en almal is uitgenooi, maar jy gaan moet besluit of jy die bruilof gaan bywoon of nie. Daardie keuse gaan net jy kan maak en ek hoop om jou daar te sien!
Mag die HERE hierdie boodskap aan baie harte seën!
