Soos ‘n dief in die nag

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek lees nou die dag Openbaring 3 en daar wys die Gees aan my verskeie kern verse uit wat vandag so op ons van toepassing is.

Jesus gaan skielik kom, net soos Hy voorspel het en die wêreld gaan Hom nie verwag nie. Baie Kinders van die HERE gaan ook nie gereed wees as Hy gaan kom nie. In Openbaring 3:3 lees ons: “Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.”

Ons is Kinders van God, maar ten spyte daarvan bly ons alewig op die verkeerde pad. In so ‘n mate dat baie van ons wonder of ons ooit heeltemal gereed gaan wees. Ja, ek sluit myself hierby in, want ek wonde ook hieroor… Die goeie nuus is dat ons miskien nie een honderd persent gereed gaan wees nie, maar ons kan een honderd persent berouvol wees!

Dit beteken dat as jy oortree, gaan vra dan dadelik verskoning! Moet nooit uitstel omdat jy skaam is of dink dat Jesus nie weet nie. Hy weet, want Hy weet alles! Gaan vra verskoning en haal die struikelblokke tussen jou en Jesus dadelik uit die pad uit.

Openbaring 3:5 sê verder dat as ons hierin oorwin, sal ons saam met Jesus in wit klere wandel omdat ons dit waardig sal wees! Is dit nie iets om na uit te sien nie?

Maar voor ons daar kan kom, moet ons eers ons beste doen om ‘n heilige leefstyl te handhaaf. Bewaar die woord van die HERE in jou hart en weerhou jou van alle vorme van besoedeling. Kyk wat skryf Paulus in 1 Korintiërs 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.” Hierdie is die dinge wat ons as Kinders van God onder geen omstandighede deel van mag wees nie, want soos die Woord vir ons leer in Galasiërs 6:7 “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” Weerhou jou daarom van hierdie dinge!

Hier kom die volgende belofte: “Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.”  (Openbaring 3:10)

Ek weet nie van julle nie, maar hierdie is ‘n belofte wat ek baie graag aan wil vashou! Dat ons bewaar sal word van die mees verskriklikste tyd in die geskiedenis van die mens wanneer God Sy wraak op ‘n wêreld gaan uitstort wat weier om Hom as God te erken. Dis ‘n tyd wat ek geen begeerte het om deur te gaan nie, maar ons is nog nie klaar nie.

Baie van ons is lou vir Christus. Ons probeer die middelpad loop met een voet in die wêreld en die ander in die Heiligheid van God. Liewe leser, jy kan nie twee here dien nie, want ‘n fontein spuit nie soet en bitter water gelyk nie. Net so groei ‘n vyeboom nie vye en dorings gelyk nie! Jy gaan moet kies, want as dit by God kom is dit alles of niks! Daar is geen lou warm middel pad nie!

Kyk wat sê die Woord vir ons in Openbaring 3:15-16 “Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug.”

Ja, God ken elkeen van ons persoonlik en Hy weet ook wat ons doen! Jy kan niks vir Hom wegsteek nie! Moet dus nie eers probeer nie!

Onthou dat Jesus nie vir jou kwaad is nie en Hy wil jou ook nie straf nie, maar Hy wil hê dat jy moet weet dat alhoewel jy die vryheid van keuse het om self te kan besluit, beteken dit nie dat jy vry is van die gevolge van jou keuses nie. Kies dus die pad wat jy wil loop met wysheid!

En weet kom dieselfde belofte: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”  (Openbaring 3:21) As jy oorwin in hierdie dinge, dan sal jy saam met Jesus wees in wit klere die dag wanneer die beproewing oor die aarde gaan kom.

Ek gaan afsluit met die laaste vers in Openbaring 3: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”  (Openbaring 3:22)

Mag dier HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!

(Visited 118 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .