Vandag se gedeelte gaan aansluit waar ek die vorige keer met Markus 4:21-22 opgehou het behalwe dat ons hierdie keer gaan kyk na vers 23-25.
“[23] As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. [24] En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. [25] Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.” (Markus 4:23-25)
Ek wou die vorige keer beide gedeeltes met julle behandel, maar die Gees het vir my gewys dat ek die twee moet apart behandel. Is Jesus nie wonderlik nie? Hy ken die skape wat Hy aan my toevertrou het en Hy weet wat hulle nodig het en wanneer! Prys Sy Naam!
Hierdie gedeelte is ‘n waarskuwing aan ons om nie te oordeel nie en versigtig te wees na wie ons luister. Daar is baie soorte mense in die lewe en nie almal se bedoelings is altyd so eerbaar nie. Sommige mense is soos vuilis lorries; vol toksiese afval en hulle soek gedurig ‘n plek om daardie afval te stort. As daardie afval eers in jou lewe is, is jy die een wat gaan sit met al daardie gevoelens van skuld en oordeel teenoor jou naaste; baie kere teenoor mense wat jy nie eers ken nie!
Ek was op geleentheid self so gevang en so is my persepsie van iemand wat ek nie eers geken het nie gevorm deur ‘n leuen van satan! Dis waarom Jesus sê dat die maat waarmee ons meet, ons mee gemeet sal word! As jy mense meet volgens jou standaard in plaas van God se standaard, sal God jou onder daardie selfde standaard waarmee jy ander gemeet het, mee meet!
Ons is almal God se Kinders en dit maak nie saak wie jy is of wat die kleur van jou vel is nie. Die Gees van God wat in ons is, is vir almal dieselfde! Prys Sy Naam!
Waarom oordeel ons dan? As ek koffie by ‘n wegneem stalletjie bestel, dan vra hulle altyd vir my of ek wit of bruin suiker wil hê. Ek antwoord dan dat dit nie saak maak nie, want albei maak soet! Net so is ons almal vir Jesus aanvaarbaar ongeag die kleur van jou vel. Hou daarom op om te oordeel, liewe leser en hou op om jou ore uit te leen aan die wat net wil kwaad stook!
As jy verkeerd doen en jy weet dit is verkeerd, dan sal daar nog meer vir jou bygevoeg word omdat jy geweet het dat dit wat jy doen verkeerd is! As jy daarom jou mede mens met die tong slaan en jy weet dat dit verkeerd is, dan sal jy dit wat na jou toe kom in dubbel maat terug ontvang!
‘n Lekker skinderstorie is mos soos ghries. Dit hou die as van die wiel glad sodat die wiel lekker loop. Later is daardie as van die wiel so geghries dat die storie sommer vanself loop en dan is daar geen keer meer aan nie! Ek weet julle lag nou, want dis waar!
Die dag as Jesus kom om ons te kom haal en dit tyd word om ons belonings te ontvang vir die werk wat ons op aarde gedoen het, sal ons verbaas staan… Die wat ons op aarde gesien het en wat ons gedink het so baie het, gaan met niks in die Hemel tevrede moet wees en die wat ons gedink het niks het nie, gaan in oorvloed in die Koningryk instap…
Volg daarom Jakobus 1:19 se raad: “So dan, my geliefde broeders, elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.”
Wyse woorde hierdie wat ons gerus deel van ons lewens kan maak! Prys die Naam van Jesus!
Baie dankie vir die boodskap. Skinder en kwaadpraat van ander is ‘n gruwel wat meestal misgekyk word.