Al opgelet dat die pad wat Jesus met elkeen van ons loop uniek is. Nie een persoon se pad met Jesus is ooit dieselfde as iemand anders s’n nie.
Ons is in die leerskool van Jesus en hierdie leerskool leer ons om rein te lewe vir Jesus sodat ons eendag as ‘n waardige Bruid vir Hom van die aarde af sal kan opstaan. Een wat sonder vlek of rimpel is. In daardie leerskool van Jesus leer ons heiligheid en ons skryf toetse en so vorder ons dieper in die dinge van die HERE.
Deel van hierdie leerskool is om toe te laat dat God die Vader ons boompies snoei. Ons begin as klein jong boompies, maar om te verseker dat die boompie maksimum vrug oplewer, is dit nodig dat die boompie gesnoei word. So word daar van die takke wat skeef groei asook die takke wat siek is ontslae geraak.
Ek het ‘n Lemmetjie Boom in my tuin. In die begin van die groei seisoen as die boom sy bloeisels begin kry dan lyk dit tog te pragtig en die bye is gedurig in die boom soos hulle die blommetjies bestuif. Kort daarna begin die klein vruggies groei. Ek wag tot die vruggies so groot is soos ‘n mens se duim, dan begin ek om van die vruggies af te breek sodat daar nie te veel is wat saam groei nie. Op die manier het elke vruggie sy eie groei spasies en word die vruggies wat oorbly groter, want daar is dan geen kompetisie met die ander vruggies wat groei nie.
Ek snoei ook die boompie om te sorg dat die boompie nie te groot word of die takke wild begin groei nie. As die boompie te hoog is, dan sukkel mens om by al die vrugte uit te kom en as daar te veel takke is, dan belemmer dit die groei van die boom.
God die Vader doen presies dieselfde met ons. Hy snoei, breek af en Hy hou ons groei in stand, want so gaan ons ‘n menigte vrugte vir Hom groei. Slegte goed moet van ontslae geraak word en met vuur verbrand word. Dit is soos dit moet wees. Dis God die Vader se suiwerings proses soos Hy sorg dat Sy Seun die beste Bruid kry wat moontlik is. God die Vader het Sy redes waarom Hy doen wat Hy doen en ons sal dit nie nou verstaan nie, net soos my Lemmetjie Boom nie verstaan waarom ek dit snoei of die vruggies wegbreek nie, maar eendag sal ons verstaan.
Al gewonder waarom sommige mense die hele tyd so swaar kry terwyl ander baie maklik deur die lewe gaan? Dis hoe God die Vader se snoei proses werk. Sommige mense het die snoei proses in hulle lewens aanvaar as normaal en hulle laat toe dat God die Vader doen wat gedoen moet word in hulle lewens om hulle gereed te kry. Ander mense weer wil nie gesnoei word nie en hulle bly aan die terughardloop na dit wat aan hulle bekend is, selfs al is dit die dinge wat hulle vuil en onwaardig maak. As julle wil weet of die reinigings proses in iemand se lewe werk, kyk dan waarna hy of sy die hele tyd terug keer. Iemand wat dieselfde verkeerde goed oor en oor doen is nog nie gereinig in daardie vlak van hulle lewens nie of hulle weier die reinigings proses.
Gelukkig is God die Vader geduldig en weet Hy hoe om met halsstarrige mense te werk! As ek so terug kyk in my eie lewe… Hoeveel keer ek so halsstarrig was… Sjoe! Al wat ek kan sê: “Dankie Vader Jesus dat jy so baie geduld het, want ek het dit beslis nie!” Dit wys net vir My hoe lief Jesus elkeen van ons het, want net iemand wat liefde onbeskryflik groot het, sal so baie moeite met elkeen van ons doen.
Ons staan nou aan die einde van die Bedeling van Genade. Binnekort gaan die Bedeling van die Verdrukking begin. Al hierdie snoeiery, al hierdie pyn wat ons ervaar het ‘n doel en dan gaan ons sien wat daardie doel was. Die trane gaan dan verander in trane van blydskap as ons gaan verstaan. Hou daarom uit en hou daarom aan en moenie moed opgee nie. Jesus is in beheer, selfs al lyk dit nie vir ons so nie.
Die snoei proses in sommige mense se lewens sal nou begin duidelik word soos die donkerte toeneem. Ons het geen rede tot kommer oor dit wat om ons besig is om te gebeur nie. Jesus bly die sterk toring in ons lewens om in weg te kruip!
Prys die Wonderlike Naam van Jesus!