Vandag se boodskap is vir die van julle wat nog nie ‘n lewensmaat gevind het nie.
Dis HERE vra vandag vir jou dat jy asseblief moet wag op Sy keuse vir jou; die een wat Hy gesalf het om by jou te pas. Een wat eerlik en vol integriteit gaan wees teenoor die HERE en nie ander gode gaan aangang en jou kinders na die verderf sal lei nie.
Jy moet onthou dat die HERE net die beste vir jou ingedagte het, maar baie ignoreer die waarskuwings van die HERE omdat die vlees in hulle lewens domineer. Jou enigste beskerming is om ‘n opregte hart te hê, want dan sal jy ‘n standaard stel en kan volhou wat jou jou hele lewe lank gaan lei.
Daar gaan baie keuses wees jy gaan wegwys omdat jy opreg is en jy gaan daardie standaarde toepas voor enige iets anders van waarde in jou lewe. Party oorskat hulle self en maak die deur oop om omgang met ‘n man te hê voor die huwelik en dan is dit te laat, want ‘n band het klaar gevorm.
Let op dat die HERE sê “‘n band”, nie “‘n verbond” nie. Die mens vorm bande, maar God vorm ‘n verbond. Daar staan geskrywe; “Wat God dan saamgevoeg het, mag geen mens skei nie.” (Mattheus 19:6)
So baie van julle het julle laat verbind aan keuses wat die HERE nie vir julle bedoel het nie en het nou is julle ongelukkig in julle huwelike. So word sonde van een generasie oorgedra na die volgende totdat een besluit om op die HERE te wag vir die regte maat om mee te trou.
Dink hieraan, liewe lesers; is jy in ‘n verhouding wat jy meer grief as vreugde gee? Het jy ‘n band gevorm met hierdie persoon om seks te kan hê voor jy te oud word? Het jy gedink dat hierdie jou laaste keuse is om gelukkig te wees voor jy te oud word? Indien jy so gedink het, dan het jy na ‘n leun van satan geluister! Jy moet weet dat dit nooit te laat vir enige iemand is om te trou nie en hoe langer jy wag, hoe groter gaan jou beloning wees.
Dink aan die weduwee Rut wat haar tuisland verlaat het om na haar siek skoonmoeder te gaan omsien. Sy was in ‘n vreemde land met vreemde gewoontes en ‘n God wat sy nie geken het nie. Omdat sy ‘n goeie hart gehad het, het mense haar opgehemel as iemand wat sewe seuns gehad het. In daardie dae het vroue, na die dood van hulle eggenoot, oorleef op die kinders wat hulle gehad het, veral die seuns. Die seuns was die sekuriteit vir haar toekoms.
In daardie tyd was die HERE bewus van ‘n man met die naam van Boas wat al in sy jare was en lank verby die ouderdom om ‘n gesin te kon begin, maar hy het vir die HERE gelewe. Maar die HERE het dit so bewerkstellig dat Rut sy pad sou kruis, want die HERE het geweet hoe hy smag om ‘n opregte seun te kan hê.
Julle kan die res van die storie lees in die Boek van Rut, Hoofstuk 3.
Die uiteinde van die storie was dat Boas uiteindelik Rut se man se grond gekoop en met haar getrou het. Dit was die gebruik in daardie tyd. Rut het swanger geraak en vir Boas ‘n seun, Obed, gebaar. Obed was die vader van Jesse en Jesse die vader van David.
Die Bybel is vol voorvalle waar vroue van gevorderde ouderdomme kinders gebaar het. Jy hoef dus glad nie daaroor bekommerd te wees dat jy te oud gaan word nie.
Dink hieraan: is die HERE se arm te kort dat hy nie die regte lewensmaat vir jou in Sy perfekte tydsberekening kan bring nie? Die HERE het jou gemaak en hy weet presies wat jou behoeftes is. Voor jy gebore was het die HERE al die perfekte maat vir jou ingedagte gehad.
As jy dus glo in die HERE, glo dan aan Sy beloftes ook. “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas.” (Genesis 2:18)
Moenie trou omdat jy bang is jy gaan agtergelaat word of omdat jy bang is jy gaan te oud word nie. Dit is leuens van satan. Moenie in daardie slaggat trap nie.
Prys die Naam van die HERE!