Die keuse om in God te glo

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die lewe is ‘n eindelose ry keuses. In die oggend as jy opstaan kies jy om in ‘n goeie bui of in ‘n slegte bui te wees. Jy kies of jy jou tande gaan borsel, jou hare gaan was of gaan skeer as jy opgestaan het. Jy kies om ontbyt te eet of nie.

Met hierdie ingedagte gaan ek vir julle ‘n storie vertel. Daar was ‘n man wat al by verskeie restaurante gewerk het as ‘n bestuurder. Wat hom laat uitstaan het bo al die ander was sy ongelooflike uitkyk op die lewe. Hy het altyd vir almal gesê dat die lewe ‘n eindelose ry keuses is. Die keuse is altyd joune en niemand kan dit van jou wegvat of namens jou maak nie.

So gebeur dit een aand dat hy vergeet om die agterdeur van die restaurant te sluit voor by begin om die kasregister af te sluit vir die aand. Twee rowers het by die agterdeur ingekom en hom aangehou met vuurwapens. Hulle het hom geforseer om die kluis oop te maak. Terwyl hy met die kluis besig was, het een van die rowers paniekerig geraak en die man drie keer deur die rug geskiet.

Hulle het gedink hy is dood en het hom net daar gelos. Terwyl hy egter daar op die vloer gelê het, het hy ‘n keuse gemaak om nie op daardie vloer dood te gaan nie. Gelukkig het iemand hom kort daarna gekry.

Terwyl die ambulans personeel op hom gewerk het, kon hy hulle oë sien wat hulle ding en dat alles net ‘n kwessie van tyd is. Toe hulle hom later in die hospitaal instoot het die verpleegpersoneel hom ook so aangekyk asof dit sy laaste oomblikke is. ‘n Fris geboude verpleegster het bevele vir die ander geskreeu terwyl hulle op hom gewerk het.

Skielik het sy na hom gekyk en gevra: “Is jy allergies vir enige iets?” “Ja,” het hy geantwoord. Almal het soos een man opgehou om aan hom te werk; wagtende op sy antwoord. “Ek is allergies vir koeëls!” het hy geantwoord. Almal het uitgebars van die lag. Hy het gesê dat hulle aan hom moet werk asof hy gaan lewe, want hy het klaar die keuse gemaak dat hy gaan lewe. Hy het ook oorleef. Ten spyte van die ernstigheid van sy wonde het hy ‘n volkome herstel gemaak.

Soos julle kan sien; jou uitkyk op die lewe en die keuses wat jy maak, speel ‘n kardinale rol in elke mense se lewe. Ons wonder baie keer wat die Here vir ons wil hê of wat Sy doel met ons is. Die waarheid is dat dit wat jy vir jouself wil hê, is wat God vir jou wil hê.

Satan gaan vir jou enige iets vertel om jou onder te kry: jy is nie goed genoeg nie, mense gaan vir jou lag… LEUENS! Jy is ‘n kind van die Koning van die Heelal en dit maak van jou ‘n Prins! Niks is vir ‘n Prins van die Heelal onmoontlik nie, want jy hoef net op jou knieë te gaan vir Koning Pa te vra en Jy SAL ontvang!

Die HERE is die hele tyd met ons en Hy praat die hele tyd met ons, maar ons hoor Hom nie altyd nie. Daardie idees wat by jou opkom wat jy geen idee het waar dit vandaan kom nie, dis die HERE wat met jou praat. Hy het jou toegerus met ‘n hele reeks van talente. Elkeen van Sy kinders het daardie talente, so moenie dat satan jou ander probeer oortuig soos dat jy geen talent het nie. Jy het!

Iemand het eenslag vir my gesê: “God help die wat hulleself help!” Ek het lank gesukkel om die een te verstaan, maar dis eintlik eenvoudig. Vra vir wat jy nodig het en gaan dan en gaan haal dit. Dis geloof! Vertrou op die HERE, want Hy sal jou nooit in die steek laat nie! Ek kan vir julle baie getuienisse gee wat dit gaan bewys, maar dan gaan hierdie gedeelte hopeloos te lank word! Ja, daar is so baie! Van kere waar my besigheid tegnies bankrot was en daar geen manier was waar ek daaruit sou kom nie, maar dan gee die HERE my skielik meer geld as wat ek weet wat om mee te maak!

Tien jaar gelede het ek ‘n nuwe motor gesoek, want die ou een was klaar. Ek het vir maande daaroor gebid, maar niks het gebeur nie. Een Saterdag oggend het my vrou vir my gesê dat ons moet gaan kyk wat beskikbaar is. Ek het na die eerste motorhandelaar gery wat ek aan kon dink en vir ons ‘n tweedehandse motor gekoop wat nog net een eienaar gehad het. Sommer net so!

Hierdie jaar het dieselfde gebeur. Die motor wat ek tien jaar gelede gekoop het, het ingegee en dit sou etlike duiselde kos om reg te maak. Ek en my vrou het vooraf besluit op die motor wat ek wou hê. Ek het vir die HERE gevra, vir Hom gesê wat ek nodig het en daarna het ons gaan kyk. Hierdie keer het ek ‘n nuwe motor en ek weet dat die HERE die fondse gaan beskikbaar stel vir my om dit te kan betaal!

Liewe lesers, vat die HERE by Sy Woord! Onthou, Hy is nie ‘n mens wat kan lieg nie! Vra en daar sal vir jou gegee word! Gebruik daardie man wat ek julle van vertel het wat geglo het hy gaan lewe, ten spyte van alles wat teen hom was. Dis geloof!

Prys die HERE van Hemel en Aarde!

(Visited 56 times, 1 visits today)