Die merk van die dier

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons lees baie in Openbaring van die Merk van die Dier en dit word ook baie in ons kerke verkondig, maar wat is dit presies?

Die mees algemeenste teorie van wat hierdie merk behels, is dit van ‘n “RFID Chip” of soos dit in Engels bekend staan, “Radio Frequency IDentity”. RFID Skyfies word deesdae in baie goed gebruik, van die merk van voorraad om diefstal te voorkom tot troetel diere wat gemerk word sodat hulle maklik aan hulle eienaars terugbesorg kan word. In Swede word RFID Skyfies in mense se hande ingeplant met hulle persoonlike besonderhede. Hierdie skyfie word dan gebruik vir identifikasie doeleindes, om deure oop te maak en finansiële transaksies mee te doen. Let daarop dat hierdie skyfies nie dieselfde is as die wat vir die Merk gebruik gaan word nie, maar soortgelyk.

Wat die skyfies betref wat vir die Merk van die Dier gebruik gaan word, hulle gaan anders wees as dit wat ons vandag ken in die sien dat dit nie net jou persoonlike inligting gaan bevat nie, maar ook ‘n manier wees vir die wêreld mag om jou te kan opspoor waar ook al in die wêreld jy is. Die wat die Merk gaan aanvaar, gaan ook verander word. Hulle siele gaan leeg wees en hulle gaan verander van vredeliewende mense na mense wat boos en wreedaardig gaan wees. Alles wat jy is, gaan dus verander as jy die Merk gaan aanvaar en dis waarom die Bybel ons waarsku om nie die Merk van die dier te aanvaar nie. Ek wil nie te diep ingaan in hierdie verandering nie, want anders gaan hierdie boodskap te kompleks word en moeilik om te verstaan.

Hierdie Merk gaan van die begin van die verdrukking aan die mense beskikbaar gemaak word, maar dit sal geensins verpligtend wees nie. Almal sal dit vrywillig kan aanvaar as hulle wil, maar ek kan my voorstel dat om mense te kry om die Merk te aanvaar, daar allerhande verskuilde voordele gaan wees vir die wat die Merk vrywilliglik gaan aanvaar. Openbaring 13 sê vir ons dat hierdie “vrywillige” aanvaarding van die Merk geheel en al tot ‘n einde gaan kom in die middel van die verdrukking net na die sluipmoord aanval op die Wêreld Leier. Die Wêreld Leier se spreekbuis of dan die Vals Profeet soos die Bybel na hom vernoem gaan dan die aanneming van die Merk verpligtend maak soos dit in Openbaring 13:16-18 staan: [16]  En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; [17]  sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. [18]  Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die wat die Merk dan nog nie aanvaar nie, sal doodgemaak word deur onthoofding soos dit in die Bybel staan. Satan het doelbewus hierdie afskuwelike manier van sterf gekies omdat dit so grillerig is. Wat hy nie vir jou gaan sê nie, gaan wees dat hy die mag het om die liggaam dood te maak, maar dat hy geen mag oor jou siel gaan hê nie. Satan kan net mag oor jou siel kry as jy dit vrywillig aan hom gee en dit is die deel wat hy nie wil hê jy moet weet nie! Die wat gaan sterf op hierdie manier sal reguit Hemel toe gaan. Daar sal vir hulle geen veroordeling wees nie en hulle sal die Kroon van Martelare ontvang! Later sal hulle saam met Jesus as Konings oor hierdie aarde regeer! As jy dus hierdie lees na die wegraping, weet dit dat jou pad Hemel toe gewaarborg is en dat satan die een is wat verloor as jy weier om die Merk te aanvaar! Prys die Naam van Jesus!

Vir die wat die Merk aanvaar uit vrees uit, vir hulle wag daar ‘n baie kort tydjie van relatiewe gemak totdat Jesus terugkom. Daarna wag daar vir hulle ‘n ewigheid in die hel saam met satan en sy demone soos daar in Openbaring 14:9-11 beskryf word: [9]  En ‘n derde engel het hulle gevolg en met ‘n groot stem gesê: As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, [10]  sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. [11]  En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang.”

Die wat die Merk aanvaar sal die oordele wat die HERE oor hierdie aarde gaan laat geld nie vryspring nie. Openbaring sê vir ons dat mense sal wens om te kan doodgaan, maar dit sal hulle nie gegun word nie. Sommige sal van kranse en van geboue sa dakke afspring, maar dit sal hulle nie dood nie. “En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.” (Openbaring 9:6)

Ek wil aan julle wat hierdie lees ‘n beroep doen om hierdie boodskap te versprei asseblief. Om die Merk te aanvaar gaan miskien na die makliker opsie lyk, maar die langtermyn gevolge gaan by verre erger wees as dit.

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 764 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , .