Waarom vertoef die HERE om te kom?

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
Print Friendly, PDF & Email

Ek weet dat daar baie van julle is wat wonder waarom Jesus nog nie gekom het nie en oor al die voorspellings oor Sy koms wat gemaak word…

Die antwoord word vir ons gegee in Jesaja 55:8 “Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.” God die Vader dink en redeneer op ‘n vlak wat ons nie kan verstaan of begryp nie. Al wat ons doen deur voorspellinge te maak oor wanneer die wegraping gaan plaasvind is om ons op te stel vir ‘n baie groot teleurstelling!

Julle sien, elke gebed wat ons maak en elke smeek om genade vind aanklank in ore van God die Vader! Ons kan tog nie verwag dat as ons smeek om genade God die Vader ‘n dowe oor moet draai daarvoor nie, kan ons? Wat se soort Vader sal Hy dan wees as Hy dit wat ons vra in smeking en gebed ignoreer? Jesus sê tog immers in Lukas 11:10 “Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.”

Verder sê Jesus in Lukas 11:11-12 die volgende: [11]  En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; [12]  of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?” As ons vra, dan voorsien die HERE en nou is ons verbaas as die wegraping uitgestel word…

Ek sê geensins dat julle moet ophou bid nie… Jesus smeek gedurig by God die Vader vir genade vir hierdie wêreld en Hy soek mense wat saam met Hom wil bid daarvoor. Daarom, liewe leser, hou aan met bid en moet nooit ophou nie!

Nog iets wat ons baie gemaklik vergeet is dat baie van ons eers heelwat later tot bekering gekom het. As die HERE die wegraping moet laat plaasvind het in die jaar 2000, hoeveel van ons sou dan gereed gewees het? Soos julle kan sien, is God die Vader nog steeds in beheer en weet Hy baie beslis wat Hy doen, selfs al verstaan ons dit nie. Al wat ons kan doen is om ons hand in Syne te sit en vas te hou met alles wat ons het, wetende dat ons tyd naby is! Prys die HERE!

Ek weet die tyd is naby; julle sal dit ook weet. Ons weet net nie wanneer nie, maar as God die Vader dink dat alles gedoen is wat gedoen kan word, dan gaan Hy vir Jesus toestemming gee om Sy Bruid te kom haal! Tot daardie dag aanbreek, liewe lesers, bid en wees bly dat ons so baie tyd het om reg te kan maak!

Jesus GAAN kom en dit gaan wees op ‘n tyd wat ons dit nie gaan verwag nie. Jesus hou van verrassings en ek kan julle verseker dat hierdie die lekkerste verrassing ooit gaan wees! Prys Sy wonderlike Naam!

Ons moet ook verstaan dat God die Vader se hart suiwer goud is. Hy het ons meer lief as wat ons ooit sal kan besef en Hy haat dit om te oordeel. Omdat Hy ons so oneindig baie liefhet, wil Hy die verdrukking nie laat plaasvind nie, maar Hy besef ook dat daar later geen ander keuse gaan wees nie. Dis waarom die wegraping so baie uitgestel word, want Hy wil almal ‘n kans gee om te kom regmaak. Verstaan julle?

Die uitstel wat ons so baie kry is die resultaat van ons gebede. Die HERE het gehoor en God die Vader het gevind dat ons waardig is om gered te word. Hy wil hê ons moet na onsself in Sy spieël kom kyk en uit te vind of dit wat ons sien ‘n offer tot God is. Indien nie, maak dan reg, want die tyd is nog nie om nie. Spandeer tyd saam moet die Heilige Gees en vra vergifnis vir daardie sonde wat jy al so lank en so diep in jou lewe wegsteek! Glo my, die HERE weet daarvan! Jy kan jou sonde vir die mense wegsteek, maar nie vir God nie! Maak reg en kry jou Bruilofskleed skoon, want hierdie uitstel gaan nie vir altyd aanhou nie!

Onthou dat die HERE jou nie veroordeel nie en dat Hy ook nie vir jou kwaad is nie. Hy wil net jou aandag vestig op dit wat verkeerd is sodat jy dit kan regmaak. Gebruik die ekstra tyd met wysheid!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 228 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , , , , .