Die prys om ‘n Kind van die HERE te wees

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ons almal het al geboue gesien wat halfpad klaar gebou was. Alhoewel in die kleinere, gebeur dit soms dat die bouer se geld opraak voor die gebou klaar gebou is…

Hoeveel van julle het so iets al gesien? Wat is jou eerste gedagte? “Wat ‘n idioot! Kon hy nie bereken het wat dit hom sou gekos het om te bou nie?” Is ek reg, liewe lesers? En so word hierdie gebou dan die bespotting van almal wat dit sien.

Julle sien, so gaan dit met Christenskap ook en min mense besef dit. Ons is baie gou om van mense Christene te maak, maar ons vertel hulle nie die hele storie nie. Baie, sodra hulle agterkom wat Christenskap behels, gee dan geheel en al moed op. Dis soos daardie gelykenis van die saaier wat van sy saad op rotsagtige plekke gesaai het. Die saad het ontkiem en vinnig gegroei, maar toe die son opkom, het dit verdroog omdat die wortels geen diepte gehad het nie. Dis soos Jesus later verduidelik het; sodra die sorge van die lewe kom, dan val hulle terug in die wêreld…

Kom ons lees uit Lukas 14:25-33  [25]  En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: [26]  As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie. [27]  En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie. [28]  Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — [29]  sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot [30]  en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie. [31]  Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? [32]  Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes. [33]  So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie.”

Hier sê Jesus dit self! As jy Sy Kind wil wees, dan moet jy bereid wees om alles te gee! Die eerste wat sal gaan, is jou vriende. Hulle gaan hulle rûe op jou draai. Dan gaan jy begin om weerstand op elke moontlike gebied te ondervind. As Kind van die HERE word daar ‘n groot teiken op jou rug geverf die dag wat jy jou hart vir die HERE gee. Satan gaan jy versoek en versoek en dan weer versoek en die HERE gaan hom toelaat om dit te doen!

Baie gaan begin terug verlang na die kospotte van Egipte en die goeie tye wat hulle gehad het. Sommige gaan selfs vir kort rukkies probeer teruggaan in die wêreld net om die ou tye weer te herleef. So word hulle ‘n bespotting vir die wêreld. Mense gaan begin sê: “As dit is hoe ‘n Christen optree, wil ek nie een wees nie!” Het julle al dit gehoor?

Liewe lesers, ek ontmoedig niemand om ‘n Christen te word nie. Dis nog steeds by verre die beste besluit wat jy ooit in jou lewe sal maak, maar ek, net soos Jesus, wil hê jy baie deeglik bewus moet wees waarvoor jy jou inlaat. Christenskap kan nie halfhartig aangepak word nie. Dis soos ‘n baie groot snelweg. As jy aan die linker kant op die skouer van die pad loop is jy veilig. So ook as jy aan die regter kant op die skouer loop. Maar as jy in die middel van die pad loop, gaan jy een of ander tyd plat gery word!

Jy kan nie net op sekere tye van jou lewe ‘n Christen wees en op ander tye ‘n wêreldling nie. Jy gaan plat gery word! Satan gaan van jou ‘n bespotting maak; luister wat ek vandag sê. Dis of alles of niks! Daar is geen veilige middel pad nie! Jesus sê self so!

Soos ek al op geleentheid gesê het; ons is in die klaskamer van die HERE. Die lesse is baie moeilik en soms baie swaar, maar elke les het ‘n doel. So word ons opgelei vir ons rol in die ewigheid en so groei ons in Christus! Soos jy groei, word jy bevorder tot die volgende vlak. Jy sal agterkom dat dit waarmee jy in die begin gesukkel het, jy nou nie meer mee sukkel nie. Dis soos jy as Kind van die HERE groei tot geestelike volwassenheid!

Jy gaan bereid moet wees om alles vir die HERE te gee! Beheer oor jou lewe, jou finansies, alles! Jy gaan die HERE moet vertrou dat Hy weet wat die beste is en dat Hy in beheer is, selfs al lyk dinge vir jou hoe deurmekaar. Die eie ek gaan geheel en al moet sterf! Jy gaan selfs nie eers bang moet wees om te sterf nie!

Jesus sê in Lukas 12:4-5 [4]  En Ek sê vir julle, my vriende: Moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie; [5]  maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!”

Daarom, liewe Kind van die HERE, hou op om te kla oor wat jy nie het nie! Hou op om te bid vir aardse rykdom! Jou skat is in elke geval nie op hierdie aarde nie! Neem jou kruis op en volg Jesus! Vat die swaarkry van die lewe op die kennebak soos ‘n bokser en dra die pyn wat jy ervaar op aan die HERE as ‘n dank offer! Kyk dan hoe die HERE jou sal seën!

Moet ook nie bang wees om te vra vir hulp nie. Daar is niks mee verkeerd om te sê “HERE, ek kan nie hierdie probleem oplos nie, want ek is nie sterk genoeg nie!” Onthou, die HERE se krag wys in jou swakheid! Dra net jou kruis en dra dit met waardigheid sodat die wêreld kan sien jy behoort aan die Skepper van Hemel en Aarde! Prys Sy Naam!

(Visited 168 times, 1 visits today)