Sout sonder smaak is waardeloos

Jesus sê in Lukas 14:34-35 “Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”

Besef julle wat se kragtige stelling hierdie is? Die HERE begin deur te sê dat sout goed is. Ons almal sal seker hiermee saamstem, want stel jou voor hoeveel anders baie kos soorte sou gesmaak het as ons nie sout gehad het nie!

Maar sout word nie net gebruik as ‘n geurmiddel nie. Dit word ook gebruik om die samestelling van grond meer sout te maak vir sekere plante om te kan groei. Dit word ook gebruik in komposhope om die komposhope se sout gehalte te verbeter. Sout word ook in swembaddens gebruik om die water samestelling sagter te maak. Daar is menigte ander gebruike vir sout behalwe net as ‘n geurmiddel!

Nou stel jou voor dat sout geen smaak het nie. Jy gooi dit ook jou aartappelskyfies en… absoluut niks gebeur nie! Die aartappelskyfies bly net so smaakloos. Jy gooi meer oor tot daar ‘n hoop daarvan op die aartappelskyfies is en nog steeds gebeur niks! Wat se waarde is die sout dan vir jou? Niks! Jy sal dit van jou aartappelskyfies afkrap en weggooi in die asblik! Jy sal dit nie in die grond gooi om die soutgehalte van die grond te verbeter nie nog minder op jou komposhoop, want dis net kristalle sonder enige waarde. Die smaak is weg!

Grond is goed, want jy kan daarin plant, maar as jy soutlose sout daarop gooi, dan gaan dit die grond negatief beïnvloed. ‘n Kompos hoop is ook goed, want jy kan die grond daarmee bemes, maar gooi sout sonder smaak daarin en jy mors die gehalte van die kompos op. Verstaan julle wat Jesus probeer sê het? As jy as Christen nie daardie sout smaak in jou het nie, dan is jy vir die HERE so waardeloos soos sout sonder smaak!

Die HERE weet nie wat om met jou te maak nie. Hy kan jou vir niks gebruik nie, want jy sal alles waarmee jy in aanraking kom net opmors. Jy sal daardeur meer skade aanrig as goed. Daar is net een ding wat die HERE met jou gedoen kan word en dit is om jou buite uit te gooi sodat jy deur die mense vertrap kan word.

Die HERE soek dissipels; mense wat bereid is om hom te volg! Die HERE soek nie geurlose sout nie. Hy soek nie net mense wat daar sit en sê hulle is Christene nie. Hy soek mense wat wil uitgaan en hulle Christenskap wil uitleef! Prys Sy Naam!

Kom ons stel voor jy het ‘n klein pakkie sout; van daardie soort wat jy by die wegneem ete plekke kry. Stel jou nou voor dat jy ‘n groot houer met sout het, maar dat hierdie groot houer sout geen smaak het nie. Jy sout jou aartappelskyfies met die klein pakkie sout. Sal jy nou die groot houer geurlose sout oopmaak en dit ook daaroor gooi? Natuurlik nie, want die geurlose sout sal die smaak wat daar was heeltemal wegvat!

Is daar ‘n rede om geurlose sout op enige iets te gooi? Ja, daar is! Sodat ons vir die wêreld kan wys hoe groot ons hoop sout is! Dis wat ons in ons kerke doen… Kyk net hoe groot is my hoop! Dis massief! Dis ongelooflik! My kerk het baie meer mense as jou kerk! Maar dis soutlose sout… Dit lyk miskien vir die wêreld groot en indrukwekkend, maar dis ‘n hoop van niks wat nie eers goed is om in ‘n komposhoop te gooi nie! Dis wat Jesus se, liewe leser, nie ek nie!

Dis harde woorde; gaan lees dit maar vir julle self! Soos ek vir julle die vorige keer gesê het, Jesus was brutaal eerlik in sy preke, maar dis tyd dat mense uit hulle gemak sones uit wakker geskud word! Is jy sout vir die HERE? Kan Hy jou uitstuur sodat jy almal wat jy in aanraking kom kan sout of het jy jou geur vir die HERE verloor?

Gaan jy kerk toe om deur die mense gesien te word of gaan jy kerk toe om God in Gees en in Waarheid te aanbid? As jy kerk toe gaan net om deur die mense gesien te word of om jou eie gewete te sus, dan het jy jou geur verloor, liewe leser! Maak reg, terwyl jy tyd het!

Kom ons bid: Liewe HERE, ek wil vandag vra dat U almal wat hierdie lees, sal seën en dat U Gees mense se harte sal oopmaak en hulle oortuig van hulle waarde vir U. Meet ons soutgehalte, liewe HERE en as ons nie sout genoeg is na U smaak nie; help ons dan om ons sout vlak te herstel sodat ons die wêreld sal kan sout vir U. Amen!

(Visited 264 times, 1 visits today)