Ons almal weet van Angus Buchan se “It is time” samekoms in Bloemfontein. Internet en die media is vol daarvan en dit gons soos mense daaroor praat!
Baie het verwag dat daar onmiddellik iets met Suid Afrika se leierskap sal gebeur. Die wat nie glo nie, het openlik gespot deur te sê dat daar nou gebid is en dat niks gebeur het nie! Maar iets het gebeur! Meer as ‘n miljoen mense, niemand weet presies hoeveel nie, het soos een saamgestaan en gebid! Mense van alle volke en tale! Velkleur en etniese agtergrond het nie saak gemaak nie! Al wat saak gemaak het, was dat almal die een Ware God aanbid het!
Dit was ‘n byeenkoms soos min! Ek kan vir julle een ding sê en dit is dat die HERE se hart vermurwe het om so baie mense bymekaar te sien. Almal met ‘n diep honger om Hom alleen te aanbid! Die wat daar was kon getuig dat die krag van die HERE teenwoordig was. Iemand het dit beskryf as ‘n wind wat tussen die mense gedwarrel het sonder om werklik sterk te waai of êrens heen te waai. Dis soos die psalmdigter in Psalm 97:3 sê: “‘n Vuur gaan voor sy aangesig uit en steek sy teëstanders rondom aan die brand.”
Die HERE gaan die wêreld seën! Dit gaan begin in Suid Afrika en dan oor die HELE wêreld versprei! Ons as Kinders van die HERE gaan word soos nooit voorheen nie. Niemand gaan die Kinders van die HERE kan aanraak nie, want die HERE gaan die hele tyd met ons wees. Die HERE se lig gaan in ons wees; uit ons skyn en oor die hele aarde wees. Baie gaan aangetrek word na die wat nie bang is om die Lig van die HERE te wees nie! Dis soos die profeet Sagaria sê in Sagaria 2:5 “En Ek sal vir hom wees, spreek die HERE, ‘n vurige muur rondom en tot heerlikheid daar binne-in.”
Liewe lesers, die HERE se tyd is nou! Dis soos die HERE in die profesie van 11 Maart 2017 bevestig het: “…dit sal die begin van die laaste seisoen verteenwoordig. Ek verklaar dat dit nou My begeerte is dat My heerlikheid van die voet van die vasteland van Afrika af sal styg en oor die land waai, en al die nasies sal die werking van my Hand in Suid-Afrika aanskou. Ek sê vir julle, Ek het hierdie land gekies vir hierdie tyd, Ek het hierdie volk gekies vir hierdie tyd…’”
Daar is die wat nog steeds wonder oor alles. Almal weet dat iets verander het. Vandag kyk ons anders na die wêreld. Alles lyk anders, die tuin wat skielik mooier lyk, die hoenderhaan wat kraai, die hen wat met haar kuikens stap, die plaasmoorde en die geweld. Daar is ‘n diepe dankbaarheid in ons almal se harte. Was die HERE by hierdie byeenkoms? Sonder enige twyfel! Is daar nou hoop? Nie net hoop nie, maar ‘n verwagting! God gaan Suid Afrika verander, maar nie net Suid Afrika nie; die HELE WêRELD! Die wat daar was, weet, want hulle het die soom van die HERE se kleed aangeraak!
Prys die Heilige Naam van die HERE!