Waarom versoekinge nodig is

Waarom versoekinge nodig is

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek weet dat daar baie van julle is wat wonder waarom ons so versoek word en waarom die HERE satan toelaat om ons so te versoek. Dit voel partykeer of alles om ons in duie wil stort, maar op een of ander manier kry ons die krag om aan te kan gaan.

Dis belangrik om te weet dat elke versoeking ‘n doel het en daardie doel is altyd dieselfde: om jou sterker te maak. Die HERE laat toe dat satan ons versoek om ons sterker te maak. Dis die enigste rede!

Sommige sal nou sê dat dit ‘n dom stelling is om te maak, want hoe kan mens iets sterker maak deur dit die hele tyd onder druk te plaas? Julle moet onthou dat ons die hele tyd op die pad van Heiligmaking is. Op die oomblik is ons geestelik onvolwasse en dit is waarom die versoekinge nodig is, sodat ons moet leer. Efesiërs 4:22 sê dat ons die ou mens moet aflê en begrawe en dit is presies wat die HERE besig is om te doen met ons. Die HERE laat toe dat satan ons versoek om ons sterker te maak sodat ons uiteindelik dood kan wees vir die sonde soos Paulus dit in Romeine 8:10 stel.

Kom ek verduidelik dit vir julle op nog ‘n manier. Satan sal nooit sy tyd mors om my sover te kry om te probeer steel nie. Waarom nie? Omdat ek volwasse genoeg in die Gees is om dit nie te doen nie en hy (satan) weet dit. Nou versoek hy my op gebiede waar ek nie geestelik sterk genoeg is nie en die HERE laat dit toe totdat ek op daardie gebiede ook geestelik sterk genoeg is om satan te kan weerstaan.

Julle moet onthou dat satan se tyd om ons as mens te versoek besig is om uit te loop en hy weet dit! Daarom sal julle vind dat die aanvalle meer doelgerig en sterker word! Julle moet net asseblief nooit vergeet wat Paulus in Efesiërs 6:12 gesê het nie: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” Hierdie teks vers, veral vandag is meer waar as wat ons ooit sal besef.

Alles wat met jou gebeur en elke aanval wat jy beleef, maak nie saak waar dit vandaan kom nie, word uitgedink en uitgevoer deur satan. Satan gebruik die mense om jou om jou te versoek en die HERE sal aanhou om hierdie versoekinge toe te laat totdat jy sterk genoeg is om dit die hoof te kan bied. Soos ek in die begin gesê het; dit gaan daaroor om jou sterker te maak totdat jy vir satan kan weerstaan.

Selfs al word jy versoek moet julle onthou dat die HERE nooit sal toe laat dat jy bokant jou vermoë versoek word nie. Ek weet dat ons baie keer voel dat ons nie sterk genoeg is nie, maar daardie gedagtes kom van satan af omdat hy wil hê jy moet vaal. Vaal jy, dan het hy iets om oor te gaan spog! So maklik!

Hierdie versoekinge is deel van die pad wat ons met die HERE loop en die geestelike groei wat elkeen van ons moet ondergaan. Jy moet onthou dat jy nou in die klaskamer van die HERE is. Die lesse is streng, maar eendag sal jy verstaan, net soos Paulus in 1 Korintiërs 13:12 gesê het!

Tot dan, loop die pad en dra jou kruis met waardigheid! Hy skaaf miskien op tye seer, maar hy is die regte lengte en die regte gewig vir jou en vir jou alleen! Iemand het eenslag gesê die HERE maak ontwerpers kruise, want elkeen se kruis is spesiaal gemaak vir die persoon wat hom moet dra! Dra joune met trots, liewe leser!

Prys die Naam van die HERE!