Geestelike Oorlogvoering is ‘n werklikheid en ons is onder konstante aanval, maar Jesus wil nie hê dat ons weerloos moet wees nie.
As Kinders van die HERE het satan geen mag oor ons nie en hy weet dit, maar as ons sondig, dan het satan alle reg om ons aan te val, want ons maak vir hom ‘n deur oop om in te gaan en deur daardie oop deur nooi ons hom in ons lewens in; baie keer onbewustelik.
Jesus wil egter nie hê dat ons onkundig moet wees nie en Hy het ons ook nie weerloos gelaat nie! Daar is ‘n unieke gereedskap tassie om enige Geestelike aanval die hoof te kan bied en vandag gaan ek julle wys wat se stukke gereedskap in hierdie tassie is.
- Aanvaar Jesus as jou verlosser.
- Leef ‘n heilige leefstyl en bid onmiddellik om vergifnis vir jou sonde as jy geval het. Vra Heilige Gees om jou te help om enige oortredinge wat jy nie van bewus is nie uit te wys sodat jy daardie deure ook kan toemaak.
- Lees jou Bybel.
- Bid; alleen of saam met ander.
- Bid in tale as jy kan. As jy in tale bid, praat jy direk met God en dan kan satan jou glad nie aanval nie.
- Bid die Psalms. Maak jou Bybel oop by die Psalms en lees hulle hardop terwyl jy bid.
- Speel geestelike musiek; die demone haat dit! Niks suiwer die lug om jou soos geestelike musiek nie!
Die verse wat handel met Geestelike Oorlogvoering is as volg.
- Psalm 34:7 “Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.” Jesus sal jou verlos, maak nie saak hoe benoud jy is nie; dis ‘n belofte!
- Jakobus 4:7 “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug.”
- Filippense 2:9-11 “[9] Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, [10] sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, [11] en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.”
- Efesiërs 1:19-23 “[19] en wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo, na die werking van die krag van sy sterkte [20] wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele, [21] bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige. [22] En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, [23] wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”
- Efesiërs 2:5-6,9 “[5] —uit genade is julle gered— [6] en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, [9] nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”
- Efesiërs 4:27 “en gee aan die duiwel geen plek nie.”
- Efesiërs 6 – Die hele hoofstuk.
- 2 Korintiërs 10:3-5 “[3] Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; [4] want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, [5] terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus.”
- Johannes 14:13-14 “[13] En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word. [14] As julle iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”
- Lukas 10:17-20 “[17] En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam. [18] Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val. [19] Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie. [20] Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.” Die slange en skerpioene waarna Jesus verwys is nie werklike slange of skerpioene soos ons dit ken nie, maar demone; magte van satan! Ons het die mag deur Jesus Naam om oor hulle te triomfeer!
- Psalm 91 “[1] Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. [2] Ek sal tot die HERE sê: My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou. [3] Want Hy is dit wat jou sal red uit die net van die voëlvanger, van die verderflike pes. [4] Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is ‘n skild en pantser. [5] Jy hoef nie te vrees vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg nie, [6] vir die pes wat in die donker wandel, vir die siekte wat op die middag verwoes nie! [7] Al val daar duisend aan jou sy en tien duisend aan jou regterhand—na jou sal dit nie aankom nie. [8] Net met jou oë sal jy dit aanskou en die vergelding van die goddelose sien. [9] Want U, HERE, is my toevlug. Die Allerhoogste het jy jou beskutting gemaak. [10] Geen onheil sal jou tref en geen plaag naby jou tent kom nie; [11] want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë. [12] Hulle sal jou op die hande dra, sodat jy jou voet teen geen klip stamp nie. [13] Op die leeu en die adder sal jy trap, die jong leeu en die slang vertrap. [14] Omdat hy My liefhet, sê God, daarom sal Ek hom red; Ek sal hom beskerm, omdat hy my Naam ken. [15] Hy sal My aanroep, en Ek sal hom verhoor; in die nood sal Ek by hom wees; Ek sal hom uitred en eer aan hom gee. [16] Met lengte van dae sal Ek hom versadig, en Ek sal hom my heil laat sien.”
Ek gaan ook vir julle ‘n voorbeeld van ‘n gebed gee wat jy kan bid as jy aangeval word.
In die Naam van Jesus bestraf ek die gees van towery en enige aanvalle van die vyand af. Ek werp hierdie aanval neer in die HEILIGE NAAM BO ALLE NAME; die naam van JESUS! Vader God, ek glo in u Seun as my Verlosser en ek maak staan op die beskerming in Sy Naam soos geskryf staan in U Heilige Woord. Jesus help my asseblief! Ek bestraf die gees van ongesteldheid, siekte en verkoue. Ek bestraf die gees van asma, kopsere en liggaamlike pyn. Ek bestraf jou en werp jou uit in die NAAM VAN JESUS! Ek is ‘n Kind van die HERE en jy het geen plek hier nie. Ek pleit die Bloed van Jesus oor my gesondheid, my huis gesin, my huis en my troeteldiere. Ek vra dat Jesus magtige Oorlog Engele sal stuur om my huis en my gesin te beskerm. Ek vra ook dat u ‘n kring van heilige vuur om my huis sal trek sodat enige aanval van satan nie sal slaag nie. Ek trek die volle wapenrusting van God aan en vra vir U beskerming. In Jesus Naam, AMEN!
Hierdie is ‘n baie kragtige gebed, liewe leser! Geen mag van satan sal enige mag hê as u hierdie gebed bid en dit bedoel nie. Ek hoop dat u geestelike oorlogvoering nou beter verstaan en sal weet hoe om dit wat Jesus vir ons gegee het sal kan gebruik om satan te kan oorwin deur die Naam van Jesus!
Prys Sy Wonderlike Naam!