Maak klaar waarmee jy besig is

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media
image_pdfLaai afimage_printDruk

Daar is by my geen twyfel dat die volgende paar weke ons laastes op Aarde gaan wees nie. Ek kan nie vir julle sê wanneer die HERE gaan kom om ons te kom haal nie, want niemand weet dit nie. Ek kan egter met sekerheid sê dat dit gou gaan wees, want al die tekens is daar.

Dis soos die verstandige boer wat sy vrugteboord versigtig dopgehou het en gesien het dat die tyd vir die bome om te begin bot naby is. Hy het daarom elke boom versigtig bespuit en met nette toegemaak. Hy en sy werkers het met lampe tot laat in die nag gewerk om elke boom versigtig te bedek, want hy het geweet dat die soet reuk van die blomme en die vrugte wat daarna kom elke moontlike insek en voël sal lok om in sy boord te kom intrek om verwoesting te kom saai. Daardie aand het hy moeg op sy bed aan die slaap geraak, maar hy was gerus, want hy het geweet dat niks verkeerd kan gaan nie. Die volgende oggend, net na dagbreek het hy die paadjie na sy vrugte boord geloop en daar, voor sy oë het honderde insekte dood op die grond gelê en net so baie voëls het gesukkel om hulle uit die nette te bevry. Jy het gou sy werkers gaan roep en hulle het die grootste oes ingesamel wat hulle nog ooit gehad het. Dit is hoe gereed die HERE wil hê dat ons moet wees, liewe lesers.

Neem solank afskeid van alles wat jy hier op Aarde het, want jy kan niks daarvan saamneem nie. Moet nie toelaat dat jou besittings in die pad kom tussen jou en die HERE nie. Ek bedoel nie dat jy moet ophou werk nie, want jy bereik nog steeds mense vir Jesus deur jou werk. Moet ook nie ophou beplan nie. Die wegraping is nie die einde van alles nie, want dit wat jy nie nou kan klaar gedoen kry nie, kan later klaargemaak word. Hou dus aan met droom en beplan! Daar is baie wat ek self ook nog wil doen, maar nie nou die tyd voor het nie. Die ewigheid is lank en dan gaan daar baie tyd wees om al jou drome uit te leef!

Moenie bekommerd wees oor jou geliefdes nie. Die HERE sal vir hulle sorg. Alles is reeds uitgewerk. As jy nou gaan inmeng deur vir hulle ‘n voorraad kos te los, gaan dit wys op ongeloof aan jou kant. Moenie ongelowig wees teenoor die HERE nie. Glo eerder dat die HERE sal voorsien!

Los vir jou geliefdes briewe van hoop. Vertel hulle dat die HERE hulle oneindig baie lief het. Vertel vir hulle dat die verdrukking nie die einde is nie, maar eerder die begin, want oor sewe jaar gaan die HERE terugkom om alles reg te maak! Sommige gaan sterf, maar sommige gaan oorleef. Die soldate van die wêreldmag gaan mag hê oor die liggaam, maar oor die siel gaan hulle geen mag hê nie. Moet dus nie jou siel prysgee terwille van die liggaam nie.

Sê vir hulle om alle vertroue op die HERE te plaas en om niks op hulle eie te wil doen nie. Die HERE sal hulle beskerm en vir hulle sorg in hierdie tyd. Hulle moenie op hulle eie wees nie, maar eerder in ‘n groep. Die HERE sal hulle toerus met alles wat hulle nodig het, ook die vermoë om te kan onderskei wie vertrou kan word en wie nie. Maklik gaan dit nie wees nie, maar as jy jou oog op die HERE hou, gaan jy as oorwinnaar anderkant uitkom!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

image_pdfLaai afimage_printDruk