Daar is die laaste ruk ‘n toeloop van Internet profete op YouTube wat allerhande voorspellings maak oor wat binnekort gaan gebeur…
As Kinders van die HERE moet ons baie versigtig wees wat ons glo. Onthou Jesus se woorde in Mattheus 24:4 “Pas op dat niemand julle mislei nie.” Dit was so belangrik vir Jesus dat ons dit moet weet, dat Hy dit heel eerste genoem het in vers vier, voor al die ander goed wat sou gebeur. Let dus op!
Dis ook waar dat mense enige iets sal doen vir aandag en geld en dis nie net vandag wat dit so is nie. Selfs in die tyd van Moses was dit al so en dis waarom God die Israeliete in Deuteronomium 13:1-5 waarsku teen vals profete en wat met sulke mense gedoen moet word as dit wat hulle voorspel het nie waar word nie!
So is YouTube deesdae vol Internet profete en hulle verkondig allerhande nonsens aan mense. As die voorspellings nie uitwerk nie, dan is hulle gou om te sê dat God van plan verander het of een of ander soortgelyke verskoning, maar dink so daaraan; wanneer het God die Vader al ooit van plan verander oor dit wat Hy gesê het gaan gebeur? Sien julle wat ek bedoel?
Dis ook belangrik om te weet dat hierdie YouTube kanale almal gemonoiseer is, want beteken dat hulle geld genereer elke slag as die video gekyk word. Die advertensies wat gedurende die video gewys word, genereer ‘n inkomste vir die eienaar van die kanaal en as jy oor ‘n duisend intekenare op hierdie kanaal het, dan begin die inkomste van so ‘n aard word dat jy daarop kan lewe!
Hierdie mense gee dus nie om wat hulle verkondig nie, solank mense net daarna kyk en hulle geld daaruit maak! Dus gaan en weer herhaal; wees versigtig waarna jy kyk en wat jy glo, want satan het net een doel en dis om so veel as moontlik te verlei en daardeur te sorg dat hulle agterbly na die wegraping.
Ek gaan verder met julle gesels uit persoonlike ondervinding uit, want ek was ook al so gevang! Die heel jongste voorval was ‘n vrou wat welwillendheid Christenskap verkondig het. Dis die geloof dat God die wat Hom aanbid finansieel seën met ‘n oorvloed. Hierdie mense is so subtiel dat jy dit aanvanklik nie agterkom nie, maar as jy so ‘n bietjie begin krap, dan kom die waarheid vinnig uit! In hierdie geval het die persoon ‘n privaat kanaal gehad waarvoor jy iets soos R400 per maand moes betaal vir toegang, maar dan sou jy ekstra geseën word! Dis waar ek my gereedskap gepak het en so vinnig as moontlik daar weggekom het!
Ek het al twee keer drome van die HERE ontvang en ek kan die presiese detail van elke droom tot vandag toe onthou. As jy werklik ‘n droom van Jesus gekry het, dan is dit presies wat gebeur. Gewone drome vergeet mens baie vinnig, maar nie hierdie drome nie. Die detail daarvan bly in jou geheue vir baie jare daarna en jy vergeet baie moeilik daarvan en so ook die emosie wat saam met die droom gekom het. Jy sal onthou hoe die droom jou laat voel het.
Hoe beskerm jy jouself dan teen mense soos dit? Jy gebruik die leiding van die Heilige Gees! Die ware Kind van God met die Heilige Gees aan sy kant is iets om mee rekening te hou! Deur Jesus te raadpleeg gaan jy al die antwoorde kry wat jy nodig het, maar let op dat die Gees jou nooit meer sal gee as wat jy kan hanteer nie. Jesus weet maar net te goed hoe ongeduldig ons is en dat ons antwoorde dadelik soek, maar wees geduldig. Ek het ook nie my antwoorde dadelik gekry nie.
Ek het aanvanklik ook nie geweet wat my drome beteken het nie, maar die betekenis daarvan het ook later deur gebed duidelik geword. Wees dus geduldig sodat die Gees kan doen wat dit moet.
Dis soos ek al baie gesê het: Jesus wil deel van jou lewe wees in alle opsigte. As jy ‘n vraag het, dan moet Jesus die eerste persoon wees waarheen jy gaan. Jou hele lewe en alles wat jy doen, moet draai om Jesus. As jy dit doen, dan sal jy verbaas wees hoe jy beskerm word van die bose.
Raadpleeg vir Jesus! Ken Hom in alles en daar sal aan jou geopenbaar word wat jy moet weet wanneer dit nodig is om te weet.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!