Duur Gekoop

Duur Gekoop

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Iets wat ons as Christene baie gou vergeet is net hoe duur ‘n prys die Here vir ons verlossing betaal het. Kom ons stel ons voor dat ons nie gered is nie.

Het u al iets klein van iemand gevat? Dit kan iets klein wees, miskien iets wat u as kind baie graag wou hê, maar wat u geweet het u ouers kon nie bekostig nie. ‘n Geleënheid soos dit doen hom so vinnig en so gou voor en u het miskien in ‘n oomblik van swakheid gestruikel en ingegee. In die oë van God is u nou ‘n dief. Dink u dat u hemel toe sal gaan? Kom; wees eerlik!

Het u al ooit in u lewe ‘n leun vertel? U vra nou seker; wie van ons het dan al nie? Weet u dat u in die oë van God, vals is? Dink u dat u hemel toe sal gaan omdat u leuens vertel?

Het u al ooit na ‘n ander man of vrou gekyk en gewonder hoe dit sal wees om daardie persoon in ‘n bed te hê. Miskien het u net daardie persoon se liggaam bewonder… U moet nou baie eerlik wees. Weet u dat u in die oë van God ‘n egbreker is? Dink u dat daar plek in die Koningryk van die Hemel is vir egbrekers?

Het u al ooit na iemand se motor of huis gelyk en gewens dat dit s’n was? Ek weet dat u nou sal vra dat wie dit nie al gedoen het nie, want ons almal doen dit. Weet u dat om te begeer een van die tien sondes is waarteen ons gewaarsku word in die Tien Gebooie?

Ek het hierbo net vier van die Tien Gebooie uitgehaal en dit met u gedeel. Hierdie is dinge wat ons almal elke dag doen: ons steel, vertel leuens, bewonder die teenoorgestelde geslag en begeer, en dan dink ons dat hierdie dinge nie so erg is nie; dat ons almal “goeie” mense is en Hemel toe sal gaan! Kan u nou verstaan wat sonde is? Hierdie is die dinge wat ons vir ‘n ewigheid van God kan skei. Ons verdien om hel toe te gaan!

Jesus sê in Johannes 10:11  “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.” Jesus het sy lewe vir ons afgelê.  Hy het die prys vir ons betaal! Deur Sy bloed het daar vir ons vergifnis gekom. Met een slag is die vuil bladsy vol sonde heeltemal weggevee. Ons is skoon en is deur hierdie een gebaar van die Jesus, waardig om voor God die Vader te kan staan! Dis ‘n geskenk soos min en al wat ons van ons kant af moet doen om hierdie vergifnis te ontvang, is om te glo! Paulus sê in 1 Korintiërs 6:20  “Want julle is duur gekoop.” Stem u hiermee saam? Verstaan u wat die Here vir ons gedoen het?

Daar is vergifnis vir diewe, leuenaars, egbrekers, die wat  begeer; in kort, daar is vergifnis vir almal en dit verniet beskikbaar! Enige iemand kan nou na Jesus kom en onmiddellik vergewe word! Waarom wag u?

Jesus sê in Openbaring 3:20  “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” Hy wag vir jou om jou hart oop te maak sodat Hy kan ingaan. Die keuse is nou u s’n om te maak.

Mag die Here hierdie boodskap seën.