Alles het begin toe ek die boodskap in die Bybel gekry het waar Jesus die tempel skoon gemaak het. (Mattheus 21:12-13 en Johannes 2:13-17)
Wat my die meeste daarna verbaas het, was hoe die boodskappe wat ek daarna gekry het almal inmekaar gevloei het. Ek lees baie wyd en ek kyk na die boodskappe van verskeie Christen groepe en ek let op dat daar een sentrale tema is… maak jou tempel skoon, want die koms van die Koning is op hande.
‘n Goeie vriend van my het vir my ‘n boodskap gestuur van ‘n vrou wat haar hele lewe lank “christelik” gelewe het. Sy het gedink sy is ‘n Christen, maar nooit het sy die oorgawe gemaak om Jesus in krag en in waarheid te aanbid nie. Eendag het sy onder narkose ‘n skyndood gehad en is sy reguit hel toe gevat. Die ondervinding wat sy gehad het was geen grap nie, maar sy het een baie belangrike les geleer en dit was dat jy NOOIT met God moet speel nie.
Dit het my laat wonder, want baie van ons dieselfde sonde oor en oor pleeg. Ons bid vir vergifnis en ontvang dit, om maar net etlike ure later presies dieselfde oortredings te begaan. Hierdie gebruik maak my bang, want daar is nie meer tyd vir Godsdiens speel nie.
Ek doen daarom ‘n beroep op julle wat hierdie lees: kry jou lewe in orde! Vergewe die wat julle te na gekom het en spreek vergifnis uit teen dien wat teen julle oortree het. Jy kan nie met bagasie soos dit Hemel toe gaan nie! Die gewig is te swaar en dit hou jou terug!
Ek het gevind dat die beste medisyne is om die Heilige Gees te vra om aan jou uit te wys of daar iets in jou lewe is wat die HERE nie aangaan nie. Julle sal verbaas wees wat die Gees aan mens uit kan wys gedurende so ‘n bid sessie. Daar was goed verkeerd in my eie lewe wat al so aan my uitgewys was. Goed wat ek al van vergeet het en waarvoor ek na jare vergifnis ontvang het! Dankie Jesus!
As jou huis eers skoon is, weerhou jou dan daarvan om dieselfde sonde weer te pleeg. Een van satan se mees gevaarlikste wapens is die een wat jou sinne verdoof sodat jy dink dat die sonde wat jy pleeg nie so erg is nie. Alle sondes is erg; maak nie saak of dit groot of klein is nie. Dinamiet kom in klein pakkies, maar die plofkrag daarvan kloof groot klippe en verskuif tonne grond op een slag! Verstaan julle wat ek bedoel?
Alle sondes is dodelik en verdien om met die ewige dood gestraf te word! Hoe groot of hoe klein die sonde is, is van geen waarde nie. Moet daarom nie nou iets gaan aanvang wat jou verhouding met die HERE negatief gaan beïnvloed nie. Ons tyd om huis toe te gaan is so naby dat daar nie nou tyd is om speletjies met God te speel nie!
As daar dus iets is wat nog nie reg is nie, dan moet jy dit regmaak terwyl jy die tyd het, want jy gaan nie baie lank meer die tyd gegun word om reg te kan maak nie! As dinge dan reg is, moet jy sorg dat jou bruilofskleed skoon bly! Moenie ingee vir satan se versoekinge nie. Ons vyand is slim en baie slinks. Wees dus uiters versigtig!
In 2 Timoteus 2:19 skryf Paulus die volgende: “Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” Jy kan dus nie jou beroep daarop dat jy ‘n Kind van die HERE is en terselfdertyd jou besig hou met allerhande ongeregtigheid nie!
As jy in hierdie laaste oomblikke ‘n instrument tot God wil wees, dan sê Paulus in 2 Timoteus 2:21 dat as jy jouself deeglik reinig jy ‘n voorwerp tot eer, geheilig en bruikbaar vir die HERE sal wees! Vlug van die begeerlikhede van die jonkheid en jaag na geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ‘n rein hart aanroep.
Mag die HERE hierdie boodskap seën!