Ons het stink ryk geërf

Ons het stink ryk geërf

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Ek kry gereeld e-posse en SMS’e waarin ek ingelig word dat ek hope geld geërf het by mense wat ek nooit geken het nie…

Kort op die hakke van hierdie boodskappe is nog boodskappe wat sê dat ek nog groter somme geld gewen het in ‘n lotto kompetisie waarvoor ek nog nooit ingeskryf het nie! Tog weet ons mos nou al teen die tyd dat niks in hierdie wêreld onverdiend na mens se kan toe kom nie en jy weet ook dat jy net kan wen as jy ingeskryf het!

By God werk dit egter anders! Uit liefde het Hy na ons toe gekom en ’n reuse erfporsie vir ons gereed gemaak. Sommer net so sonder dat ons eers hoe ingeskryf het en ek kan julle verseker, dis geen verneukspul nie!

Kom ons kyk wat staan in Romeine 8 : 16 -17  [16]  Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;  [17]  en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

As u die dag u hart vir Jesus gee, word u ‘n mede-erfgenaam in God se Koningryk; so maklik! Daar is geen terme en voorwaardes daaraan gekoppel nie! U is dan ‘n Kind van die Koning van die Heelal en deur Jesus Prinse en Prinsesse van die Hemel! Is dit nie ongelooflik nie? Ons mag miskien nou saam met Jesus op hierdie aarde lei, maar eendag gaan ons saam met Hom verheerlik word en al wat ons hoef te doen is om nou ons harte aan Jesus te gee!

Die liedjie van Danie Botha, My Pa is die Koning, is so paslik op hierdie stukkie! Ons glimlag so breed as ons mense groet, dit lyk of ons so selfversekerd is. Die wêreld is aan ons voete, want ons voel soos reuse; die lewe bly ‘n fees. As teëspoed ons tref, dan skeel dit ons min! Dit lyk of ons dans as ons loop. Die wêreld kan dit nie verstaan nie, want hulle weet nie dat ons Pa die Koning van die Heelal is nie. Kom wat wil ons sal dit nooit vergeet nie, want die wind kan waai en die berge kan val. Hy’t gesê Hy voorsien en Hy sal! Die lewe in Christus is ‘n fees en selfs die dood is ‘n wins! Vir niks is ons bang nie, want ons Pa is die Koning onthou!

Sjoe! Is dit nou vir jou ‘n erfporsie of wat! Voel u nog so arm en minder werd as ander mense? Moenie dat satan vir jou aanhou lieg nie! Hy is besig om jou vreugde in Jesus te steel en ons laat hom hoe! Vat terug wat u s’n is as Prins/Prinses van die Hemel! Die erfporsie is u s’n! U het al die mag in die Hemel tot u beskikking deur die naam van die Koning, net soos ‘n aardse Prins of Prinses het! Gebruik dit! Laat die duiwel vir ‘n slag sidder! Die blikskottel wat ons so versoek!

Baie keer moet ons geloof in die Here hê soos die geloofshelde van ouds. Gee alles wat jy het vir die Here, ook jou bekommernisse en vrese. As ons dit doen en ons glo dit, dan gaan ons regtig die wêreld aan ons voete hê en loop soos reuse! En dit is presies wat Jesus wil hê ons moet doen, want doen ons dit, gaan ons nie ‘n probleem van ‘n dag oud hê nie.

Prys die Naam van Jesus!