Ek het vriende en familie wat nie in die HERE glo nie

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Die leiding van die HERE is darem so ongelooflik; sagkens, maar tog ferm. Hy sal nooit hard met jou praat nie, tensy jy besig is om groot aan te jaag en jou ewigheid op die spel is nie!

Ek was die afgelope naweek by familie wat nie Christene is nie. My hart brand om te sien hoe hulle die Geloof in die HERE aanneem. Ek het al op meer as een geleentheid met hulle daaroor gepraat, maar dit het nog altyd op ‘n gestryery uitgeloop.

Die gesprek het gaan draai by alternatiewe bronne van genesing in terme van plante en plant olie. Iemand het gesê dat hulle oop is vir enige vorm van gesing, behalwe Christenskap… Hierdie persoon glo eerder in ‘n toordokter se potjie salf as in die genesing in die bloed van die Lam…

Ek is seker daarvan dat baie van julle ook kan getuig van vriende en familie wat weier om die HERE aan te neem. Vir ons wat die pad ken is dit uiters frustrerend, want ons weet maar net te goed wat die uiteinde gaan wees! Maar hierdie mense is blind vir hierdie feit op ‘n vlak wat moeilik is vir ons wat gered is om te verstaan of te glo!

As Christene weet ons maar net te goed hoe werklik die hel is. Ons ken ook Jesus se woorde in Johannes 14:6 “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Die betekenis daarvan is baie duidelik: As jy Jesus nie aanneem nie, sal jy NIE Hemel toe gaan nie! Dit is beslis harde woorde, maar as jy sonder Jesus sterf, wag daar geen beter plek vir jou nie.

Dis ook waar dat niemand van ons weet wat in die laaste oomblikke voor die dood gebeur nie en dus weet ons nie of so ‘n siel kans gaan kry om in daardie laaste oomblikke reg te maak of nie. Ons kan maar net hoop en dis waaraan baie van ons vasklou; die hoop dat iemand vir wie ons liefhet die geleentheid gekry het om op daardie laaste oomblikke reg te maak.

Die enigste beskrywing wat die HERE vir ons gee van die hel is in Lukas 16:19-31 in die gelykenis van die Ryk Man en Lasarus. Ek dink die HERE het dit doelbewus gedoen sodat ons eerder daarop moet konsentreer om by Hom te wil wees as op enige ander plek. Die hel is in elke geval nie gemaak vir ons nie en dis ook nie God se wil dat enige van Sy Kinders daarheen moet gaan nie, maar ons moet onthou dat die HERE gebind is deur dieselfde reëls as waardeur ons gebind is.

Ons wat die HERE ken, ken die pad en ons weet wat die uiteinde gaan wees. Ons is so lief vir hulle dat ons nie wil hê dat hulle daar moet opeindig nie, maar jou vriende en familie is blind daarvoor. Frustrerend is dit nie? So wat doen jy?

Ek het hierdie naweek baie met die HERE hieroor gepraat. Eintlik het ek gepraat en Hy het net geluister! Prys die HERE! Vanoggend slaan ek my Bybel oop soos wat ek elke oggend doen. Ek maak dit net oop; daar waar dit oopgaan, daar lees ek. Kyk ‘n bietjie hierna: “Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” (Sagaria 4:6)

Dien ons nie ‘n wonderlike HERE nie? Prys Sy Wonderlike Naam!

Liewe lesers, as jy dus familie of vriende het wat nie aan die HERE behoort nie; hier is jou antwoord. Gee hulle oor in die Hande van die HERE en bid vir hulle, want deur krag en geweld gaan jy absoluut niks vermag nie! Dis nie binne enige een van ons se mag om iemand te maak die HERE volg of nie. Die beste wat ons kan doen is om vir hulle te bid en ‘n voorbeeld te stel vir hulle om te volg.

Ek dink nie ek kon ‘n beter antwoord vir enige iemand gegee het wat my hierdie vraag gevra het as dit nie! Baie, dankie Jesus, vir hierdie antwoord!

Mag die HERE hierdie boodskap seën!

(Visited 533 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .