Ek is God se gemors

Deel hierdie boodskap op Sosiale Media

Jesus, ek staan elke slag verbaas as ek sien hoe U ons in ons daaglikse lewe lei. Baie keer is dit op maniere wat ons nie eers van bewus is nie! Dankie, Jesus, dat U so na elkeen van ons omsien. Amen!

Gisteraand toe trek ek ‘n Rhema vers. Ek weet nie wie van julle weet wat dit is nie. Mens het altyd so ‘n plastiek houertjie gekry waarin daar ‘n klomp Bybelversie op karton insetsels gedruk was. Die idee was om een van hierdie karton insetsels te trek en dan te lees wat die vers sê. Vandag kan jy hierdie elektronies op ‘n hele klomp Internet webruimtes doen.

Ek weet nou nog nie wat my gemaak het na hierdie webruimte toe gaan nie, maar die vers wat ek gekry het, het gesê dat die beginsel van die liefde is om aan die HERE te behoort en aan Hom alleen! Prys die Naam van die HERE!

Dit was asof my oë oopgegaan het, want as mens is ons eintlik baie swakker as wat ons dink ons is. Ons probeer baie keer so hard om ‘n heilige leefwyse te volg dat ons dink dat ons daardeur ons eie pad Hemel toe kan koop. Ons veroordeel dan mense wat nie kan doen wat ons kan nie en dit, liewe leser, is so verkeerd!

Jesus sê in Johannes 14:6  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Daar is geen manier op hierdie aarde wat jy jou eie heiligmaking kan bewerkstellig nie. Daar is geen manier wat jy totaal van sonde ontslae gaan raak nie. Dis die kruis wat jy vir die HERE dra en jy sal hom dra tot die dag wat die HERE ons gaan kom haal en ons kruise van ons gaan wegneem.

Moenie ‘n fout maak nie! Die drie stappe van bekering; Sonde oortuiging, Sonde berou en Ommekeer geld nog steeds. Onder geen omstandighede mag ons alles oorboord gooi en aanhou sondig nie. Bid vir vergifnis is net so belangrik en dit moet gereeld gedoen word, maar om aan die HERE te behoort en aan Hom alleen; dit is die prys!

Julle sien; as jou doel reg is, dan sal al die ander dinge outomaties in plek val. As jy aan die HERE wil behoort en aan niemand anders nie, dan sal jy die hele tyd probeer om nie meer te sondig nie, selfs al vaal jy in jou voorneme. Die wil om berou te toon as jy oortree, sal dan ook daar wees!

Verstaan julle waarom my oë oopgegaan het? Ons probeer so hard om hierdie dinge op ons eie reg te kry, dat ons baie keer van Jesus vergeet. Ons wil op ons eie nie meer sondig nie sodat ons vir die HERE kan wys hoe perfek ons is en dit, liewe leser, is hoogmoed op sy beste! Jy gaan val as jy so dink want Jesus is die weg, die waarheid en die lewe en sonder Hom gaan jy dit nooit maak nie!

Jesus is die wynstok en ons die lote. Op hulle eie kan die lote niks vermag nie, maar as hulle in die wynstok bly, dan groei hulle! Ons groei solank ons in Jesus die wynstok bly. Val en seerkry is deel van die proses en so is ook opstaan en verder loop!

Die doel is nie om perfek te wees nie, maar om ‘n perfekte wil te hê. Ek weet julle verstaan nou seker nie. Dit beteken dat jy die hele tyd moet probeer en nooit moet ophou om te probeer nie, want die poging wat jy aanwend, tel baie meer as wat jy dink. Probeer jy en laat die Heilige Gees toe om jou tekortkominge aan te vul! Moet daarom nie so hard wees op jouself nie en moenie jouself skop en slaan as jy gevaal het nie. Dis nie die antwoord daardie nie.

Ek gaan afsluit met hierdie versie wat iemand baie lank gelede vir my gestuur het. As julle dit gelees het, sal julle die opskrif van hierdie boodskap ook verstaan en weet waarom ek dit gekies het as opskrif.

Ons is Christene. Ons struikel en ons val en ons bly alewig op die verkeerde pad. Maar God werk in ons. My lewe mag miskien in my oë een groot gemors wees, maar ek is God se gemors en Hy is besig om hierdie gemors uit te sorteer! Die dag gaan kom wat ek aan die Here se sy sal staan; Sy werk in my volbring! Tot daardie dag kom, sal ek Sy hand in myne vat en Hom toe laat om te doen wat gedoen moet word, maak nie saak hoe pynlik dit vir my mag wees nie, want ek weet dat as Hy klaar is, dit alles die moeite werd sal wees!

Prys die Naam van die HERE!

(Visited 367 times, 1 visits today)
Tagged , , , , , .