In Johannes 15 lees ons die bekende gedeelte van Jesus wat die Wingerdstok is, God die Vader die Landbouer en ons die Lote. Prys die Naam van Jesus!
Julle sien; geen wingerdstok kan enige iets doen sonder sy takke nie; hulle strek ver van die wortel af om die sterkte en soetheid van die vrug te dra vir diegene wat buite die muur in die wêreld staan. Dit beteken dat ons vir Jesus nodig het, want Hy is tog immers die wynstok, maar dit beteken ook dat Jesus ons nodig het, want ons is die lote. Die wynstok op sy eie beken niks net soos die lote op hulle eie ook niks beteken nie. Sonder ons, kan Jesus nie die mense seën soos wat Hy wil nie.
Dis ‘n verhewe gedagte om te dink dat ek wat net ‘n mens is iets aan Jesus kan gee; ‘n bereidwilligheid om Hom te dien! Net deur Jesus te dien, kan Jesus die mense dien, maar hierdie kan natuurlik net gedoen word as ons in Jesus bly en Hy in ons; verstaan julle?
Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie. (Johannes 15:5)
Die van julle wat wingerde ken, sal weet dat as die wingerd sy vrug begin vorm, dan word drie uit elke vyf van die jong druiwe bessies uitgesny sodat die ander bessies hulle volle grote kan bereik. Deur die Woord word ons as jong druiwe bessies ook so gesny sodat ons groter en beter vrugte vir Jesus kan groei! Prys Sy Naam!
Net soos die lote nooit weer van die wingerd geskei kan word as hulle eers verenig is nie, net so kan ons ook nooit weer van Jesus geskei word as ons eenmaal met Hom verenig is deur die bekering nie. Wat ons wel kan doen is om op te hou om in Jesus die wynstok te bly vir die verskaffing van genade en krag en dan verdor ons net soos ‘n droë loot verdor as dit nie meer vrug dra nie.
As iemand in My nie bly nie, word hy uitgewerp soos die loot en verdroog, en hulle maak dit bymekaar en gooi dit in die vuur, en dit verbrand. (Johannes 15:6)
Bly in my, sê die wingerdstok vir die tak. Laat die opening nie verstik nie, dan sal ek die sap deur u laat pols. Bly in my, spreek die Here, en ek sal in u krag wees in u swakheid, liefde in u liefdeloosheid, genade en skoonheid in u onversorgdheid.
Is Jesus se liefde nie onbepaalbaar diep nie, liewe leser? Ons sal dit sekerlik nooit kan begryp of bepaal nie.
Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word. (Johannes 15:11)
Prys die Wonderlike Naam van Jesus want Hy is waardig om geprys te word! Haleluja!