Gebed van Kalmte

Om kalm te word en dinge in die Hande van die HERE te los is nie altyd maklik nie, want ons hou mos daarvan om in beheer te wees!

Iemand het eenslag hierdie gebed gebid: “Here, gee met die kalmte om te aanvaar die dinge wat ek nie kan verander nie; dapperheid om te verander wat ek kan en die wysheid om die verskil te ken.” Hierdie is sekerlik een van die mees gepaste gebede wat daar is, veral in die tyd wat ons nou leef waar alles so deurmekaar is en ons nie altyd weet watter kant toe nie.

Deesdae is alles mos ‘n skakering van grys waar niks werklik verkeerd of reg is nie… Vir die van ons wat ‘n sterk sin van verantwoordelikheid het, is dit ‘n bitter pil om te sluk, maar dis ‘n teken van die tyd waarin ons nou is. Jesus het ons gewaarsku dat daar swaar tye gaan kom; die sogenaamde geboorte pyne en ons sien dit om ons elke dag! ‘n Vrou kan nie geboorte skenk sonder pyn nie; sonder pyn kan daar nie ‘n baba wees nie en as die pyn eers begin het, dan kan die proses nie meer geskop word nie.

Dieselfde met die wegraping: daar moet pyn wees, anders kan daar nie ‘n wegraping wees nie en ons wil so graag die wegraping sien! Daarom moet ons nou deur hierdie tydperk van pyn gaan. Die proses het reeds begin en kan daarom nie meer gestop word nie, maar net soos met ‘n geboorte is die pyn baie gou vergete na die geboorte.

Gelukkig het ons vir Jesus! Prys Sy Naam! En kan ons na Jesus gaan met alles wat ons pla. Die wêreld wend hulle tot alkohol en dwelms as dinge verkeerd loop, maar ons hoef nie! Ons het vir Jesus!

Saam met Jesus het ons die kalmte om te aanvaar wat ons nie kan verander nie.

Saam met Jesus het ons die wysheid om te verander dit wat binne ons vermoë is om te verander.

Saam met Jesus het ons die wysheid om die verskil te ken! Prys Sy Kosbare Naam!

En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.” (Jakobus 1:5)

Mag die HERE hierdie kort boodskap seën aan die ore vir wie dit bedoel is. Prys Sy Wonderlike Naam!

(Visited 1 712 times, 1 visits today)
Tagged , , , , .