Dat ons in die laaste oomblikke is voor die wegraping van die kerk, kan daar nie meer enige twyfel oor wees nie.
Alles is besig om uitmekaar te val en dis oral duidelik sigbaar vir die ware Kind van God. Nog nooit het ek so baie baie natuur rampe gesien afspeel of ooit gesien hoe lande teen mekaar opstaan nie. As ek van tyd tot tyd die nuus op my selfoon oopmaak, dan staan ek net in verbasing, maar die wêreld sien dit nie raak nie…
Baie van ons beskou nie meer hierdie aarde as ons tuiste nie en die wat so dink dink natuurlik reg! Ek weet ook dat net so baie van julle graag saam met Jesus wil wees en dat hierdie wag periode uitmergelend moet wees vir julle.
Maar onthou Jesus se woorde in Mattheus 24:36 dat niemand daardie dag en die uur sal weet nie; nie eers Jesus self weet dit nie en in Mattheus 24:44 sê Jesus dat dit op ‘n uur sal wees wat niemand verwag nie. Daar word wel vir ons gesê ons sal weet as die tyd naby is en dit weet ons klaar, want jy hoef maar net om jou te kyk om te sien hoe die profesieë vervul word. Die bewyse is oral en daar is by my geen twyfel dat die tyd inderdaad hier is nie.
Die belangrikste ding wat almal vergeet is dat God se tyd nie ons tyd is nie. Vir ons is tyd lineêr wat beteken dat ons tyd ervaar in ‘n reguit lyn van geboorte tot dood. Vir God het tyd geen betekenis nie, want Hy kan vorentoe gaan om te kyk wat gaan gebeur en Hy kan terug gaan om die resultate te inspekteer. Maar weet dit dat die dag as die wegraping plaasvind, daar geen beter dag daarvoor gaan wees nie. Dit gaan om dit nou in een woord te sê die “perfekte” dag daarvoor wees! Tot daardie “perfekte” dag kom, moet ons geduldig wees en bly wees dat ons so baie tyd gegun word om gereed te maak.
Ek weet dat sommige van julle al moeg gewag is en dat sommige op die punt is om moed op te gee. Jesus het weereens gesê dat dit gaan gebeur, maar hou moed, want jou verlossing is amper hier. Bly in die ark en moenie nuuskierig word of selfs begin verlang na dit wat jy gehad het nie. Buite die ark sirkel die demone en hulle wag vir ‘n dapper siel om uit die ark te kom, want net as jy uit die ark uitgaan, kan hulle jou vang. Hierdie demone se uitsluitlike doel is om te sorg dat jy die wegraping mis sodat hulle met jou die spot kan dryf en jou uiteindelik dood laat maak. Bly dus in die ark en moenie vir satan ingee nie; dis nie die moeite werd nie!
As daar enige iemand wat hierdie lees wat nog nie gereed is nie, dan wil ek by jou smeek om nou, op hierdie oomblik wat jy dit lees, aandag daaraan te gee. As jy dink dat jy op die laaste sekonde alles sal kan regmaak, dan is jy verkeerd. So vinnig soos wat jy jou oë kan knip gaan jy agterkom dat jy nie gereed was nie en dat jy agter gebly het! Let op dat daar net een wegraping gaan wees. As jy dit mis, dan is dit te laat. Daar gaan geen tweede kans wees nie.
Hoe kan jy sorg dat jy in die ark is en gereed is? Weerhou jou van sonde sover as wat vir jou moontlik is. Moenie steel nie, moenie skinder nie, praat nie kwaad van ander nie en daar is nog baie ander dinge ook. As jy oortree, want ons almal doen, vra dan dadelik vergifnis. Moenie uitstel nie! Maak ‘n punt daarvan om vergifnis vir jou sondes te vra met jou oggend of aand godsdiens. Jy sal nooit vir Jesus ‘n oorlas wees nie en jy sal ook nooit genoeg vergifnis kan vra nie.
Ons weet nie wanneer die tyd daar gaan wees nie en ons sal sekerlik nooit 100% sonder sonde kan wees nie, maar ons kan 100% berouvol wees oor ons sonde en dit doen ons deur op ons knieë te bly!
Prys die Naam van Jesus en mag die HERE elkeen van julle ryklik seën!
Baie dankies aan onse Here Jesus Christus dat u gehoorsaam is in u boodskappe!
God se rykste seën aan u en u familie.