Ek hoef seker vir niemand te sê dat hierdie tyd wat ons nou in is die geboorte pyne is nie, want ons almal weet dit sekerlik.
Dit wat nou in die wêreld gebeur is vreeslik en ek kry die mense met wie dit gebeur uit my hart uit jammer. Dis storms, aardbewings, oorloë, noem maar op. Ek het al met baie mense gesels wat wou weet of die wêreld mal geword het… Alles wat gebeur is altyd in die oortreffende trap, wat beteken dat dit baie erger is as wat ons al ooit gesien het!
Julle weet, maak nie saak hoe sleg hierdie dinge is wat nou gebeur nie, ek weet dat dit alles deel van God se plan is. Ek mag miskien die doel van hierdie plan nie nou verstaan nie, maar ek weet ook dat God se weë hoër is as my weë en dis waarom ek nie nou verstaan nie. Ek weet en ek glo daarom dat ek eendag sal verstaan!
Ek het ook al gesien hoe mense hulle koppe verloor soos hulle iemand soek om te blameer vir wat besig is om met hulle te gebeur. Dis sulke tye wat mense se geloof in die HERE getoets word om te kyk wat hulle gaan doen. Gaan jy soos die menigte met jou vuiste in die lug te slaan en te skreeu en te raas omdat jy nie jou sin kan kry nie, of gaan jy die HERE se hand vat en glo dat Hy een of ander doel daarmee het wat jy nie nou verstaan nie?
Die in tye soos die waar die wat geestelik volwasse is onderskei word van die wat nog nie geestelik volwasse is nie. As mense hou ons daarvan om in beheer te wees, maar soms sê Jesus vir ons dat Hy nou in beheer is en dan is ons geheel en al in Sy Hande. Ons vergeet dat alles op aarde aan die HERE behoort en dat ons net die bestuurders is van dit wat aan ons toevertrou is. Niks van wat ons besit is ooit werklik ons s’n nie.
Soms moet ons dit wat met ons gebeur net in die Hande van Jesus los dat Hy daaraan kan werk. Maklik is dit nie; ek weet, want ek was al ‘n paar keer daar. Die vrede wat oor jou kom, wetende dat Jesus daar is en besig is om aan die probleem te werk is ‘n vrede wat jy nêrens anders kan ervaar nie! Prys Sy Naam! Die snaakste is dat die probleem, wat dit ook al is, altyd betyds opgelos word, maak nie saak hoe jy jou daaroor bekommer het nie!
Ek verstaan nou die woorde van daardie profetiese boodskap waar Jesus gesê het dat in die laaste dae Hy Sy kinders sal toerus met ‘n vrede wat gaan grens aan die bo-natuurlike. Terwyl die wêreld besig is om sy kop te verloor as gevolg van al die krisisse, sal die Kinders van die HERE kalm wees. Hulle sal die lamp op die staander wees wat die donkerte gaan verdryf en mense gaan aantrek na die lig toe. Hulle gaan die kalm oog in die middel van die storm wees en mense gaan dit sien en wonder hoe hulle dit reg kan kry om so kalm te wees.
Jy het nou ‘n keuse om te maak, liewe leser. Onthou dat ons gedurig in die leerskool van Jesus is en alles wat met ons gebeur is vir ons om daaruit te leer. Ons kan Jesus se Hand in ‘n krisis vat en glo dat daar ‘n doel mee is of ons kan maak soos die wêreld deur met ons vuiste in die lug te slaan, te skreeu en te raas en uiteindelik niks te vermag nie. Kies, maar kies met wysheid.
Mag die HERE hierdie boodskap aan julle harte seën!
